Ronja Wiedenbeck (26), van Cornwall in Brittanje, ly al jare lank aan ovariale sists en is op Sondag 10 April na die hospitaal gehaas.

Die dokters het dadelik vir haar morfien gegee, wat dit vir haar onmoontlik gemaak het om haar seun, Rio, te borsvoed.

Toe teken die aspirant-model in haar hospitaalbed aan op Breastfeeding Yummy Mummies se Facebook-groep en plaas ’n pleidooi dat ander borsvoedende ma’s haar help.

Lees ook‘Borsmelkskenking kan soveel babas se lewens red,’ sê Sue Duminy

Tot Ronja se verbasing het amper 1 000 vroue haar gekontak – en die eerste een, Leigh Ann Fearn, het binne ’n uur langs haar hospitaalbed gestaan.

“Ek is vol morfien gepomp en dit het instinktief gelyk asof iemand hom voed op ’n manier waaraan hy gewoond is en waarmee hy gemaklik is,” het die enkelma van twee gesê.

“Toe die eerste vrou op die punt is om hom te voed, het hy na my gekyk, amper asof hy goedkeuring vra. Dit het my hart met soveel vreugde en reuse-verligting gevul.

“Ek is baie dankbaar oor en heeltemal oorweldig deur die reaksie op die boodskap. Dis so ’n liefdevolle en onbaatsugtige daad en ongelooflik hartroerend om te aanskou.”

Tydens haar verblyf in die Koninklike Cornwall-hospitaal in Truro verlede week het vyf verskillende vroue Rio gevoer. Hy eet vaste kos, maar drink net borsmelk.

Ronja het selfs twee van die vrywilliger-“voeders” toegelaat om haar seun huis toe te neem om hom deur die dag te voed.

Sy het ook ’n sesjarige dogter, Lily, wat sy geborsvoed het tot sy drie was.

“So baie negatiwiteit bestaan oor borsvoeding. Dis absoluut ongelooflik om hierdie steun te hê wanneer ek dit nodig het.

Lees ook: Borsvoeding sorg vir hoër IK

“Ek het gedink dit sal dalk ongewoon voel, want dit is iets spesiaals wat net ek en Rio gedeel het. Maar dit het heeltemal instinktief gevoel dat ’n ander ma hom help op ’n manier waaraan hy gewoond is.”

Michelle Netherton, ’n 28-jarige ma van drie, het opgedaag die dag nadat Ronja hulp gevra het.

“Toe ek die plasing sien, het ek gedink: ‘Die arme baba.’ Ek wou help, want ek sal nooit ’n baba laat honger ly nie,” het sy aan The Telegraph gesê.

“Ek pomp gedurig oorskietmelk uit en dit was gaaf dat dit na ’n baba kon gaan.

“Ek was ’n bietjie senuagtig dat hy dalk huil en nie vassuig nie, maar hy het nie omgegee wie se bors dit is nie – dit moes net ’n bors wees!

“Dis wonderlik om te hoor hoeveel mense Ronja gehelp of hulp aangebied het – dis nou vir jou mamma-krag.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die deel van melk dalk gerieflik, maar nie sonder risiko nie.

“Net onder uitsonderlike omstandighede kan ’n ma se melk as ongeskik vir haar baba beskou word,” sê die organisasie in sy wêreldwye strategie vir die voeding van babas en jong kinders.

“Vir daardie min gesondheidsituasies waar babas nie geborsvoed kan of moet word nie, hang die keuse van die beste alternatief – uitgepompte borsmelk van ’n baba se eie ma, borsmelk van ’n gesonde voeder of ’n mensmelkbank, of ’n borsmelkvervanging wat met ’n koppie gevoer word, wat ’n veiliger metode as ’n voedbottel is – van individuele omstandighede af.”

Ander ma’s het dalk ’n siekte wat deur hul melk na die baba oorgedra kan word of gebruik dalk skadelike middels.

Ma’s wat kies om melk informeel te deel, moet die risiko teen die voordeel vir hul baba opweeg, sê Breastfeedingusa.org.

“Hulle moet al die maatreëls tref wat hulle nodig ag om die veiligheid te verseker van die melk wat hulle vir hul baba verkry. Die maatreëls kan insluit dat die skenker ’n vraelys invul en/of hul bloed laat toets.”

Maar selfs toetsing “verseker nie die melk sal vir die baba ‘veilig’ wees nie.”

– Kirstin Buick

Bronne: The Telegraph, Mail Online, The Mirror, breastfeedingusa.org, WHO

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die Here is groot, sê Hayley se ouers nadat haar toestand verbeter

Bure slaags ná een ander se kietsie in strik vang

Deadpool se Ryan Reynolds en sy mooie vrou, Blake Lively, deel groot nuus

Cruz Beckham volg al singend in ma Victoria se voetspore

Ratse sjimpansee ‘cha-cha’ op kragdrade ná sy ontsnapping