Deur dit alles het jy moeite gedoen om mense se hart te wen. Maar skaars ’n week voor die verkiesing, word inligting bekendgemaak wat jou weer onbetroubaar laat lyk.

Dit is in kort die penarie van Hillary Clinton, die demokratiese kandidaat in die Amerikaanse verkiesing wat Dinsdag in Amerika plaasvind. Sy kom teen Donald Trump te staan.

Roland Henwood, ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria se departement politieke wetenskap, verduidelik wat gebeur het:

Clinton het in haar tyd as minister van buitelandse sake ’n privaat e-posbediener gebruik pleks van ’n amptelike een van die staat.

Die staat se amptelike e-posbediener is baie meer sekuur as ’n privaat een, wat beteken daar kan meer beheer wees oor wie toegang kry tot watter e-posse en in wie se hande e-posse beland.

“Die risiko met ’n privaat e-posbediener is dat jy nie kan bepaal wie het toegang tot sekere e-posse of in wie se hande e-posse beland nie,” sê Henwood.

“Wat Hillary gedoen het, is nie onwettig nie, maar dit is teen die reëls.

“Haar verweer is, sy wou nie hê enigiemand moet toegang hê tot haar e-posse nie, presies die staat se rede waarom die amptelike e-posbediener gebruik moet word.

“Van die argumente wat teen Clinton gebruik is, is dat sy oneerlik is en iets het om weg te steek. Dis hoekom sy die privaat e-posbediener gebruik het. Haar teenstanders meen dit maak haar ’n onbetroubare kandidaat.”

Clinton se e-posskandaal kom al lank aan.

Volgens The Telegraph het Clinton gedurende haar vier jaar as minister van buitelandse sake, van 2009 tot ’13, ’n persoonlike e-posbediener en -adres gebruik. Dié adres was hdr@clintonemail.com. Sy het ook e-posadresse opgestel vir haar assistent Huma Abedin en die personeelhoof, Cheryl Mills. Clinton het nooit haar amptelike state.gov-e-posadres geaktiveer of gebruik nie, berig The Telegraph. Clinton het erken wat sy gedoen het, kom neer op growwe nalatigheid en dat sy dit nie moes doen nie. In Julie het die FBI, ná ’n ondersoek, aangekondig hulle gaan Clinton nie vervolg nie. Die FBI het bevind die meeste van die derduisende e-posse is privaat e-posse, maar daar is ook amptelikes tussen-in.

Tog is daar geen e-posse met geklassifiseerde inligting of e-posse wat werklike skade tot gevolg kan hê nie.
The Telegraph berig die FBI het aangekondig die e-posse wat gestuur is, was geklassifiseer teen die tyd dat dit gestuur of ontvang is, maar die FBI kon nie enige bewyse vind dat Clinton met opset verkeerd opgetree het met geklassifiseerde inligting nie. Sy het ook nie met opset staatsgeheime uitgelap nie.

“Dié aankondiging het ietwat gehelp om die skade te beperk,” sê Henwood. Die volgende probleem het vir Clinton gekom toe die FBI onlangs op die skootrekenaar van Anthony Weiner, vervreemde man van Huma Abedin, ’n assistant van Clinton, meer as 600 000 e-posse van Clinton kry, berig The Telegraph. Volgens The Telegraph het die FBI op dié vonds afgekom tydens ’n kriminele “sexting” ondersoek waarmee hulle besig was. Dié ondersoek het niks met Clinton te doen nie. Comey het gesê dit is onduidelik wie dié e-posse gestuur, ontvang of waaroor dit gegaan het, berig The Telegraph. “Dis nog onduidelik of dit nuwe e-posse is en of dit net die ou e-posse is. Dit sal die FBI in hul ondersoek bepaal. Clinton sê dit is dieselfde e-posse,” sê Henwood. “Die nuwe inligting wat gevind is, bring weer al die vrae oor Clinton se betroubaarheid na vore.”

Henwood sê Clinton is erg ongelukkig oor die nuwe inligting wat bekendgemaak is, want dit is glo teen regulasies om sulke inligting in die laaste week voor ’n verkiesing bekend te maak. James Comey, die direkteur van die FBI en ’n Republikeinse aanhanger, het die inligting in ’n brief aan die kongres oorgedra, berig The Telegraph.
As bevind word dat die e-posse nuut is en daar is geklassifiseerde inligting in, kan Clinton en/of Abedin aangekla word van die nalatige hantering van geklassifiseerde inligting weens Clinton se besluit om ’n privaat e-posbediener te gebruik toe sy minister van buitelandse sake was, berig The Telegraph. Ekstra bron: The Telegraph

Wat Twitter daarvan dink