Huisgenoot.com het in Junie 2017 berig Dennis Haynes (22) is een oggend in Februarie 1986 op die N1 buite Bloemfontein afgelaai vir ’n saamrygeleentheid vir ’n werkonderhoud in Roodepoort.

“Hy was veronderstel om binne ’n week of twee terug te wees, maar dit het nooit gebeur nie,” het Dennis se suster Desiree Haynes in Junie aan Huisgenoot.com vertel. 

Intussen het Ruth Jacobs, ’n weldoener van Pretoria-Noord, ’n foto van ’n hawelose man se houtbeeltjies op haar ‘Ons gee om’ Facebook-blad gedeel.

Ruth deel kospakkies uit aan hawelose mense op straat. 

Kort daarna het ’n Facebook-gebruiker na vore gekom en die eerste storie van Dennis Haynes se raaiselagtige verdwyning met Ruth gedeel omdat die hawelose man vir haar nes die vermiste Dennis gelyk het. 

“Hierdie man lyk nes die verlore seun,” het Ruth ook gedink.  

Dennis is al vir die afgelope 30 jaar vermis. Foto: Facebook

Ruth het toe met Dennis se familie van Bloemfontein kontak gemaak. Die Haynes-familie is die afgelope naweek na Pretoria om Ruth te kom help soek. 

Na ’n groot gesukkel het Ruth hom Saterdag by die Mountain View-treinstasie opgespoor. 

Dié man, wat hulle John Do noem omdat hy nie weet wat sy eie naam is nie en ook nie ’n identiteitsdokument het nie, lyk op ’n druppel soos die vermiste Dennis.

Volgens Ruth het die man geheueverlies met betrekking tot sommige goed van sy verlede soos waar hy vandaan kom en wie hy is. Hy het aan Ruth vertel hy was jare gelede in ’n motorongeluk.

Ruth het hom na die Haynes-gesin geneem maar was ietwat teleurgesteld toe dinge nie soos beplan verloop het nie.

“Die Haynes-gesin het ’n foto vir John gewys. Hy het dadelik gesê dit is hy op die foto. Maar hy het nie die Haynes-familie herken nie. Hy sê hy is 30 jaar oud. Dit is onmoontlik omdat Dennis al 31 jaar lank vermis is,” sê Ruth. 

Hulle het John na die polisiekantoor vir vingerafdrukke geneem. Hy is ook vir DNS-toetse gestuur. 

John woon nou tydelik by ’n skuilplek in Pretoria-Noord totdat die DNS-toetse se uitslae beskikbaar gemaak word. 
 
Rina het destyds haar seun by die polisie as vermis aangemeld, maar hulle kon geen spoor van hom kry nie. In 2013 het sy weer ’n saak gemaak nadat die polisie geen rekord van die oorspronklike een kon kry nie, maar tot op hede het dit ook geen vrugte afgewerp nie.