Ondersoek na die Samsung Galaxy Note 7 gaan voort ná berigte oor batterye wat ontplof, maar die toestel kan steeds deur Suid-Afrikaners vooruitbestel word, het ’n maatskappybaas aan Fin24 gesê.

“Samsung Electronics het nie die Note 7 in Suid-Afrika uitgereik nie en bemark tans voorafbestelde verkope via ons netwerkvennote,” het Craige Fleisher, direkteur van geïntegreerde mobiliteit by Samsung Electronics South Africa gesê.

Die maatskappy het ook gesê hulle sal alle Galaxy Note 7-toestelle vir enige klante wat dit reeds besit, vervang.

Die aankondiging gaan dalk nie ’n impak op Suid-Afrikaanse klante hê nie omdat die toestel tans slegs vir voorafbestelling beskikbaar is en eers op 23 September wyd beskikbaar sal wees.

“Ons is bewus van die kwessies wat in die media uitgelig is en Samsung Electronics se hoofkantore doen ’n deeglike ondersoek daaroor. Ons sal die bevindings so gou as moontlik deel. Samsung is verbind daartoe om die hoogste gehalte produkte vir ons klante te bied.”

Volgens aanvanklike berigte is die skade veroorsaak deur die herlaai van die toestel sonder die oorspronklike laaier.

Die slimfoon wat met groot afwagting gepaard gaan, is vroeg in Augustus in Suid-Afrika bekendgestel met heelwat opgraderings en nuwe funksies teenoor sy voorganger.

Die Note 7 beskik oor 'n 5.7 duim-skerm, 'n nuwe iris-skandeerder, 'n kragtiger verwerker en 'n groter battery as die vorige modelle.

Bron: Fin24