Inwoners van Ayr, ’n klein dorpie in die noorde van Queensland in Australië, kon hul oë nie glo toe hulle ’n zambezihaai van ’n meter en ’n half in die middel van die pad aantref nie.

Die haai, wat reeds dood was, is ’n slagoffer van sikloon Debbie wat die afgelope week verwoesting gesaai het in die ooste van Australië. Volgens die Australiese nuuswebtuiste News.com.au was Philip Calder, ’n plaaslike joernalis, besig om oor die omvang van die vloede in die omgewing te berig toe hy op die uitgespoelde haai afkom.

“Ons is verstom. Ons was van plan om foto’s te neem van die paaie wat oorstroom het, maar het glad nie verwag om enige wilde diere te vind nie,” het hy aan die nuuswebwerf vertel.

Luidens The Independent was die gestrande haai groot nuus op die dorp en het talle inwoners opgedaag om aan die haai te raak.

Zambezihaaie of bulhaaie is bekend daarvoor dat hulle lang tye in varswater kan oorleef en lief is vir troebel water. Daarom het nooddienste mense aanbeveel om uit die vloedwaters te bly.

  • In 2009 is die grootste zambezihaai tot nog toe in Suid-Afrika gevang - in die Breederivier naby Infanta.

Einde verlede jaar het ’n hengelaar dié video in dieselfde gebied geneem van ’n zambezihaai wat sy vangs afneem.