“WTF Smiley my friendy, WTF,” het ene Paulaq Oelofse, ’n vriendin van André, Maandagmiddag op Facebook geskryf. André se bynaam is glo “Smiley”. “Kan dit nie glo nie,” het Ze-Louise Saaiman gesê ná sy ’n skakel na ’n nuusberig oor André se hofverskyning op André se Facebookprofiel gedeel het. Lees ook: 'Ek het nie Anika se hande afgekap nie' André het homself Saterdag by die polisiekantoor in Pretoria-Noord oorgegee. Hy beweer hy was glo betrokke by die moord op die tiener Anika Smit. Hy het Maandagoggend in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

“Ek is geskok,” het ene Andrea Rutkowski Spies op Paulaq se inskrywing gereageer. “Ek het nie eers woorde nie. Hoeveel keer saam hom gewees. Ons het soveel keer saam gekuier, saam klas gehad - ek het gedink hy's decent... Wow ek is tot in my diepste geskok...” het Andrea verder geskryf.

Volgens Paulaq kan sy nie glo dat André “so iets” kon doen nie. “Smiley was nog nooit violent nie, hy was nog altyd so sag en cute eintlik, hy kon nie eers op skool baklei nie,” het sy verder onder in die kommentaar-afdeling geskryf. Lees ook: ‘Hy’s ’n gebroke man’: Anika Smit se pa nie in staat om dogter te vermoor, hoor hof Ene Isabel Suzette Viviers vra of daar dalk nog betrokkenes kon wees. “Die berig sê hy is betrokke. Kan dit dalk wees dat daar twee of meer persone betrokke was? Want Smiley is nie ’n violent mens nie, hy sal nooit so iets doen nie.” “Hy was nie in staat om so iets alleen te kon doen nie, ek dink nie dis nodig dat sy 'vriende' dit bespiegel nie want die koerante soek tog net ook ’n sappige storie,” het Helen Swanepoel van haar laat hoor.

Anika is in 2010 in haar slaapkamer dood aangetref. Sy was afgeboek vir ’n oorinfeksie en het tuis gebly. Haar pa, Johan Smit het op haar lyk afgekom. Anika was ten tyde van haar dood ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Gerrit Maritz. Sy het steekwonde gehad en albei haar hande is afgekap, maar hulle is nooit gekry nie.

Die geregtelike ondersoek na Anika se dood het vandag ook in die Pretoria-Noord-landdroshof voortgaan ná dit ’n jaar gelede begin het. Die geregtelike ondersoek is uitgestel.

André moet weer op 26 September in die hof verskyn.