Studente dreig om weer te begin betoog – en Suid-Afrika se kampusse staal hulself vir nog ’n ronde van #FeesMustFall.

Die Suid-Afrikaanse Unie van Studente (SAUS), wat beweer hulle is die grootste federasie van studentebestuursverteenwoordiging, sê hul geduld met die regering is op en hulle sal niks buiten ’n fooiverhoging van nul persent by alle universiteite vir 2017 aanvaar nie.

Terwyl die regering nog oor volgende jaar se klas- en koshuisgeld beraadslaag, dreig studenteleiers om universiteite landwyd te sluit as die regering ’n verhoging sou instel.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het Sondag van die dreigemente kennis geneem en kalmte gevra. Hy het gesê hy het Dinsdag ’n verslag van die Raad op Hoër Onderwys oor aanbevelings vir fooi-aanpassings in 2017 ontvang en het besluit verdere beraadslaging is nodig.

“Ons verwerp die feit dat die kommissie die haalbaarheid van gratis onderwys ondersoek pleks van die maatreëls oor hoe om gratis en gehalte-onderrig ’n werklikheid te maak . . . Die vraag moenie wees of Suid-Afrika gratis onderrig kan bekostig nie, maar kan ons bekostig om nie gratis en gehalte-onderwys te hê nie,” het Avela Mjajubana, voorsitter van die SAUS, gesê.

Avela het bygevoeg die unie verwerp ook die skepping van twee aparte taakspanne of kommissies, een wat gratis onderwys ondersoek en die ander die moontlikheid van ’n fooiverhoging in 2017.

“Dit is ’n duidelike vermorsing van belastingbetalers se geld en ook tyd. Die werk van die kommissie oor gratis onderwys moet die weg vorentoe vir 2017 bepaal.”

Hy sê die unie sal geen verhoging aanvaar nie.

“Die nul persent verlede jaar was ’n simboliese verbintenis tot die verwesenliking van gratis en gehalte-onderrig wat ons eindelike doelwit is. As studente is ons nie bang vir die gebruik van sekuriteitsmagte of hofinterdikte nie. Ons sal nie van ons revolusionêre mandaat weerhou word nie.”

Hy het gesê Maandag begin massaberaadslaging en massavergaderings.

Bron: News24