Die chaos op universiteitskampusse reg oor Suid-Afrika het mense Dinsdag aan die praat gehad. En hoewel polisie- en veiligheidsbeamptes probeer het om die massas te beheer, is klasse ontwrig en eiendom beskadig. Akademiese aktiwiteite is opgeskort by onder meer die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Kaapstad. 16:30 Kyk: Wits-student word in hegtenis geneem.

"Waarom neem julle my in hegtenis? Ek het niks gedoen nie. My hande was in die lug," sê sy.

16:10 Dit is chaos op die verskillende kampusse. Studente van NMMU in Port Elizabeth het ook onder polisiebeamptes se skokgranate deur geloop, nes studente in Braamfontein.

Maar die spanning is steeds hoog in Johannesburg. Die nuuskanaal eNCA berig op Twitter dat polisiebeamptes betogende Wits-studente in hegtenis neem.
’n Tweede Wits-student word per ambulans hospitaal toe geneem.

15:45 Die Noordwes-Universiteit se Mafikengkampus het in ’n verklaring aangekondig dat die kampus tot 9 Oktober gesluit sal wees. “Alle studente, ook die in koshuise word aangemoedig om die kampus te verlaat, ter wille van veiligheid,” sê die kampusbestuur in die verklaring. Die tweede semester se eksamens sal steeds voortgaan soos dit op die akademiese kalender beplan is. Studente van Wits beplan intussen om by die “Great Hall” bymekaar te kom om hul volgende stappe te bespreek.

Dit is nog nie presies bekend hoeveel studente in vanmiddag se botsing met die polisie beseer is nie.

15:36 Russel Meiring, woordvoerder van ER24 het op Twitter bevestig dat paramedici van dié nooddiens verskeie studente vir beserings behandel het. “Een is so ver na ’n hospitaal geneem.” 15:30 Paramedici laai een van die beseerde studente in Braamfontein, Johannesburg op. Honderde Wits-studente is in die strate.

Die spanning verhoog vinnig. Die polisie het glo skokgranate in die rigting van die betogende studente gegooi.
As jou motor in Braamfontein geparkeer is, moet jy hom dalk eerder skuif.

15:20 Studente van Wits en polisiebeamptes bots in in Braamfontein. Na berigte is verskeie studente in die proses beseer.

Mediese personeel is op die toneel in Braamfontein.

15:00

Waarom betoog studente weer op universiteitskampusse?

12 punte om #FeesMustFall beter te verstaan Prof. Mary Metcalfe, ’n onderwyskenner aan die Universiteit van die Witwatersrand, verduidelik wat tans besig is om op die kampusse te gebeur. 1. Die minister (dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys) het Maandag aangekondig dat universiteitsrade self die fooie vir 2017 moet vasstel maar dat die bedrae nie met meer as 8% verhoog mag word nie.

2. Baie studente glo dat universiteitsgelde nie ’n struikelblok moet wees vir talentvolle studente om toegang te hê na hoër onderrig nie. Die land se vaardigheidsbasis moet ontwikkel word om mense wat talentvol is, se potensiaal te ontgin. 3. Die regering voorsien finansiële ondersteuning deur beurse en lenings aan die armste van die armste studente, deur middel van die nasionale ­finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

4. Maar families waar sommige mense werk het, kwalifiseer gewoonlik nie vir NSFAS nie want ander families is armer. Hulle kwalifiseer ook nie vir lenings nie want hulle verdien nie genoeg geld nie. Hierdie gevalle word die “vermiste middel” genoem.

5. Die regering is besig om aan planne te werk om hierdie families ook by te staan. Maar tot dié planne in plek is, sukkel studente van arm families om net die basiese te hê om op universiteit te oorleef. Hulle is dikwels ook honger.

6. Verlede jaar het studente gewen met ’n 0%-verhoging. Die universiteite het gesukkel om gehalte-onderrig te bied met die kleiner inkomste en hulle het vir 2017 meer geld nodig.

7. Hierdie geld moet óf van universiteitsfooie verhaal word, óf van die regering. As die regering meer geld aan universiteite gee, moet daardie geld steeds van iewers af kom. Of dit moet oorsee geleen word. 8. Studente wat vir NSFAS kwalifiseer of deel is van die vermiste middel, sal volgens Blade, deur die staat gehelp word. Dit beteken slegs studente vanuit ryker families sal die verhoging moet betaal. 9. Sommige studente voel dat hierdie besluit nie aan hul eis van gratis hoër onderrig voldoen nie.

10. Party studente is gewillig om met die regering en universiteitsbestuur te praat. Ander is nie en hul woede word aangevuur deur ’n algemene ontevredenheid met die regering. 11. Sommige studente het hulself daarom tot geweldadige betogings gewend.

12. Wanneer die betogings geweldadig raak, is die situasie gevaarlik want die polisiebeamptes het nie noodwendig die vaardighede om die openbare orde te handhaaf nie. By sommige universiteite is private veiligheidsmaatskappye ingeroep om hierdie rol oor te neem.
Die afgelope uur By die Universiteit van Pretoria stap betogende studente oor die kampus en probeer klasse ontwrig. Veiligheidsbeamptes staan gereed.
Studente by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit het ook begin betoog. Bestuurslede van die universiteit gaan die studente toespreek.
Wits se studente gaan om 12:30 by Solomon Mahlangu Huis bymekaar kom om te vergader.
By die Universiteit van die Vrystaat is studente op pad na die Sentraal Universiteit van Tegnologie. Die studente het ook by mekaar ingehaak om te keer dat studente in die straat stap.

12:00

Die DA het begrip vir studente se frustrasie oor duur klasgelde, maar dié frustrasie beteken nie studente kan vandalisties optree nie. Mmusi Maimane, leier van die DA, het Woensdag in ’n mediaverklaring gesê dat die DA betogende studente se geweldadige optrede, vandalisme en intimmidasie veroordeel.

“Die DA ondersteun die stryd van miljoene studente, reg oor die land, om befondsing vir arm studente te vermeerder, toegang tot tersiêre opvoeding te verbreed en kampusse te diversifiseer. Hierdie is ’n baie nodige stryd om die ongeregtigheid van die verlede aan te spreek en ’n inklusiewe en versoende gemeenskap te bou,” sê Maimane.

“Die reg tot vreedsame betogings is ’n vryheid waarvoor daar hard gewerk is en wat in ons grondwet beskerm en bevorder word.” Hy sê die DA ondersteun die studente se reg om te betoog maar het bendaruk dat dit nie beteken hulle ondersteun die geweld en vernietiging van eiendom nie. 10:00 Studente het reeds vroeg Woensdagoggend begin regmaak vir ’n tweede dag van betogings en ontwrigting.

Minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, sê geweld en betogings is nie die oplossing nie. Hy sê sy deur staan enige tyd oop vir gesprekke. “Maar sulke gesprekke kan nie in ’n omgewing vol geweld en vernietiging plaasvind nie.” Blade het Dinsdagmiddag ’n verklaring uitgereik ná chaos op verskeie universiteitskampusse landwyd uitgebreek het. Hy het die kampusgeweld veroordeel.
Hy sê die gesprekke oor universiteitsgelde moet voortgaan. “Maar die skade aan eiendom en geweld kan nie geduld word nie." Blade waarsku ook die studente om nie hul erfenis te vernietig nie. “Hul universiteite, wat ons beskerm en onderhou as instellings van akademiese uitnemendheid, vir hulle maar ook vir die toekomstige generasies.”
Die minister doen ’n beroep op polisiebeamptes om onmiddellik binne hul mandaat op te tree teen mense wat geweldadig raak en vandalisties is. Hy het ook gevra dat die vise-kanseliers van die verskillende universiteite veiligheid op kampus opskerp en enige stappe te doen om geweld en vernietiging te verhoed. “Dit is ontstellend om te sien dat hierdie gewelddadige betogings aangehits word deur skelm-elemente, ná daar wyd gekonsulteer is oor die maatreëls wat geneem gaan word om die voortslepende kwessie van universiteitsgelde aan te spreek,” sê Blade verder in sy verklaring. Volgens Blade kan alle studente nie op dieselfde manier gesubsidieer word nie. Hy sê daar word wel voorsiening gemaak vir arm en werkersklasstudente.

Hy sê die kampusgeweld is nie net onaanvaarbaar nie, maar los ook nie enige probleme op nie.