Kry jou hart vlerke in die buitelug? Is die reuk van ’n kampvuur of die geluid van die wind deur die bome kos vir jou siel? As kampeer een van jou gunsteling-aktiwiteite was voor jy ’n ouer geword het en jy dit nou summier prysgegee het omdat jy dink dis te moeilik met die kroos, dink weer. Ons gee raad sodat jy met gemak saam met jou kinders kan gaan kampeer.

Berei die kinders voor

Die meeste kinders is dol oor kampeer. Maar maak seker hulle weet wat ’n mens moet verwag; so kan jy heelwat ongelukkigheid vermy.

  • Slaan die tent in die agterplaas op voor julle vertrek. So kan die kinders ook leer help.
  • Wys jou kinders hoe ’n mens kamptoerusting soos kopliggies of lampies self gebruik.
  • Vertel hulle waarheen julle gaan en wat hulle kan verwag.
  • Gaan stap in jul buurt met flitse en kopligte sodat jou kind nie skrikkerig is vir naggeluide nie.
  • Beplan ’n paar aktiwiteite wat julle saam kan doen in die kampeerplek.

Geniet die buitelug

As jou kinders skrikkerig is vir die natuur, kan jy hulle gerus vooraf daaraan bekend stel.

  • Leer hulle oor veiligheid en hoe ’n mens die natuur respekteer.
  • Gaan voetslaan saam met jou kinders en wys verskillende insekte en plante aan hulle uit.

Maak ’n lysie

’n Mens moet voorbereid wees wanneer jy saam met kinders gaan kampeer. Maak ’n kampeerlysie en merk dit af sodra dit ingepak is. Die kinders kan ook help inpak sodat hulle deel voel van die voorbereiding.

  • Ekstra klere en skoene. Jou kind gaan buite speel en sy klere gaan vinnig vuil raak.
  • Nat weer vereis waterstewels; nat tekkies is baie lastig.
  • Kry vir elke kind ’n tent, indien moontlik. So het elkeen sy eie plek en niemand kan iemand se matras vol sand of gras trap nie.
  • Maak seker daar is sonroom, muskietafweerder, pleisters, ontsmettingsmiddel en watte in jou noodhulptassie.
  • Kinders is mal oor glimstafies. Wanneer die son sak, verskaf dit ure se plesier, en dit spaar jou flitslig se batterye. Dis sommer goedkoop beskikbaar by kettingwinkels.
  • Vat bekende slaaptyd-goeters soos ’n kombers of teddiebeer saam.

Gestel dit reën . . .

  • Pak ’n skootrekenaar en ’n paar DVD’s in. Die kinders (en jy!) gaan bly wees wanneer die reën uitsak.
  • As jy elektroniese speletjies koop, koop verskillende soorte en laat hulle uitruil as hulle verveeld is. Probeer dalk ’n PSP, ’n Nintendo DS en ’n Leapster Explorer. En laai sommer speletjies soos Angry Birds, Star Wars en Where’s my Water op jou slimfoon af.
  • Pak ’n pakkie speelkaarte in. Die hele gesin kan “snap” speel!
  • ’n Mens kry die oulikste reisgrootte-bordspeletjies – klein skaakstelle, Battleship of Rummi kan almal besig hou op ’n reëndag.

Nooi ’n maat saam

As jy net vir ’n langnaweek weggaan en een van jou kinders is in ’n stadium wat sy altoos van verveling sanik, nooi haar beste maatjie saam. Oorweeg dit ook om saam met ’n ander gesin te gaan kampeer, dan het jy ook nog ’n maat!

Smul saam

Kampkos is dikwels die lekkerste deel van kampeer! Beplan sommer etes waarmee die kinders ook kan help. Pak gerus die volgende:

  • ’n Pak malvalekkers om op die kampvuur te braai.
  • Kinders is mal oor koeldrankysies; dis lekker as dit warm is en keer dat hulle ontwater.
  • Voor jy met vakansie gaan, verpulp ’n klomp vrugte in ’n versapper en vries dit. Gee dit vir die pikkies as “vrugteroomys”. Hulle is mal daaroor.
  • Potjiekosmengsel wat jy sommer net so saam met ’n paar stukke hoender kan gaarmaak.
  • Probeer piesangbootjies: Gebruik ’n skerp mes om oorlangs ’n piesang oop te sny. Stop malvalekkers en sjokoladeblokkies daarin en draai dit in foelie toe. Braai dit op die kole tot die binnekant smelt.

Geniet die oomblik

  • Vertel saans stories om die kampvuur.
  • Kinders hou daarvan om hout op te tel vir die kampvuur of waterkanne vol te maak.
  • Hou kompetisies vir die netjiesste slaapplek of die beste kamp-nagereg.

Enige mamma se oorlewingspakkie vir ’n langnaweek

  • Kabelstroppe
  • Ziploc-sakkies
  • Foelie
  • ’n Houer aanmaaksap of -koeldrank
  • ’n Knipmes
  • Pleisters
  • Stopayne
  • ’n Huisgenoot!

Bronne: Weg! Junie 2013, womensadventuremagazine.com, lovetheoutdoors.com

- Shané Barnard