Die seun is “genadeloos geboelie” nadat hy op video vasgelê is waar hy na bewering ’n seksdaad uitvoer en het daarna sy eie lewe geneem.

Die 14-jarige Matthew Burdette het op 29 November, twee weke ná die voorval, sy lewe geneem terwyl hy en sy ouers met vakansie was.

Hy het volgens die eis ’n brief gelos waarin hy sê hy kon skool nie langer hanteer nie en het nie meer vriende nie.

In hul hofsaak teen die San Diego Unified School District beweer Timothy en Barbara Burdette skoolpersoneel het geweet hul seun word geboelie, maar niks daaromtrent gedoen nie.

Volgens die eis is Matthew op 15 November uit sy klas by die Hoërskool University City geskop omdat hy geëet het. ’n Klasmaat wat oor ’n badkamerhokkie geloer het, het hom toe skelm verfilm.

Volgens die eis het die leerder die video aanlyn geplaas en dit is vinnig op sosialemediawebtuistes soos Snapchat en Vine deur die skooldistrik gedeel.

“Van die oomblik dat die video geplaas is, is Matthew genadeloos geboelie, geteister en geterg deur studente wat die video gesien het,” lui die eis.

Timothy en Barbara sê hul seun, ’n lid van die waterpolo- en stoeispan wat op pad was om ’n Eagle Scout te word, het hom begin onttrek. “Matthew was eers optimisties en gemoedelik, maar was later onseker en depressief,” lees regsdokumente.

Die seun wat die video geneem het, kan nou kragtens die deelstaat se teenboeliewette aangekla word.

Bron: SkyNews