Hendrik Helmer, van Darwin, se beproewing het Woensdag in die vroeë oggendure begin toe hy met ’n skerp pyn in sy regteroor wakker skrik, berig die Australian Broadcasting Corporation.

“Ek het net gehoop dis nie ’n giftige spinnekop nie . . . Ek het gehoop dit sou my nie byt nie,” het hy gesê en bygevoeg die pyn het vererger toe hy die insek met ’n stofsuier probeer uitsuig het voor hy water in sy oor gespuit het. “Wat ook al in my oor was, het glad nie daarvan gehou nie,” het hy Vrydag aan die uitsaaier gesê.

Toe die pyn ondraaglik word, het sy woonstelmaat met hom hospitaal toe gejaag waar ’n dokter olie in sy oor gegooi het. Dit het net die 2 cm lange kakkerlak dieper laat inkruip voor dit eindelik begin vrek het. “Sowat 10 minute later het hy ophou grawe, maar hy het nog gespartel,” sê Hendrik.

Die dokter het toe ’n tangetjie in sy oor geplaas en die kakkerlak uitgetrek. “Sy (die dokter) het gesê: ‘Onthou jy ek het gesê dis ’n klein kakkerlak? Wel, dit was dalk ’n onderskatting.’ Hulle het gesê hulle het nog nooit so ’n groot insek uit iemand se oor getrek nie.”

Hendrik het aan ABC gesê hy gaan nie voorsorg tref voor slaaptyd nie,  maar van sy vriende het gesê die voorstel het hulle so ontstel, hulle gaan voortaan met oorfone slaap. – Sapa