Die nuus dat pres. Jacob Zuma sy gevreesde kabinetskommeling toe wel uitgevoer het, het skokgolwe deur Suid-Afrika en die ekonomie gestuur.

Jacob-Zuma

Kenners sê Zuma se gedrag is nie lukraak nie en dat dit die begin van ’n volslae magstryd binne die ANC kan wees, wat die ekonomie duur te staan kan kom.

Wat is Zuma se groot redes vir dié kabinetskommeling?

Zuma se hoofmotivering bly die feit dat hy die Guptas wil paai en hulle maklike toegang tot die tesourie wil gee, sê prof. Susan Booysen, ’n politieke ontleder van die Universiteit van die Witwatersrand.

Sy voeg by Zuma se klem op radikale ekonomiese transformasie is ’n rookskerm. “Sy kabinetskommeling het nie te make met sy plan vir transformasie nie.”

Berigte Donderdagmiddag wat beweer het Zuma het ’n ooreenkoms met ANC-grootkoppe aangegaan waar hy vroeër as president uittree in ruil vir die afdanking van Pravin Gordhan, die minister van finansies, was moontlik ’n vals storie, sê Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

“Ek dink dit kom moontlik van die pro-Gordhan-kamp. Die rand het versterk nadat dié bewering onthul is en ek dink sy kamp wou moontlik wys hoe sensitief die rand nou is.”

Het Zuma nou beheer oor die regering se beursie?

Deur Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, te verwyder, het Zuma sy laaste hekwagte verwyder wat die tesourie teen hom beskerm, sê Venter. Die rand het Vrydagoggend op R13,47 teenoor die dollar verhandel.

“Hy beheer nou die veiligheidsdienste, die tesourie en meer.”

Skuiwe binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die reserwebank kan volgende kom, voorspel Venter.

Venter twyfel of die ANC-lede wat glo teen Zuma sou draai as hy Gordhan sou afdank, dit noodwendig sal doen. “Hulle praat maklik, maar doen moeilik. Cyril Ramaphosa sal byvoorbeeld nie standpunt inneem nie en is die laaste twee maande ’n groot teleurstelling.”

Wat lees ons in sy besluit om sekere ministers te hou, ander te skuif en sommige geheel en al te pos?

“Zuma is ’n strateeg en maak skuiwe wat die binnekring verwar,” sê Venter.

Hy het byvoorbeeld nie vir Blade Nzimande, wat as minister van hoër onderwys dien, of Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, geskuif of gepos nie, al het heelwat mense dit verwag.

“Dit sal ander ANC-lede laat wonder of Nzimande en Motsoaledi dalk in Zuma se kamp is en of hulle ’n houvas op Zuma het of andersom. Dit blaas verdeling binne die ANC aan, wat Zuma tot sy voordeel gebruik.”

Dit is ook vreemd dat Nkosazana Dlamini-Zuma, wat talle geglo het die ANC-presidensie binne haar visier het, nie geskuif is nie, sê Venter.

“As hy wou gehad het sy moet by hom oorneem, sou nou ’n goeie tyd wees om haar na ’n meer strategiese plek te skuif.”

Hy wil moontlik vir Dlamini-Zuma weg van omstredenheid en slegte reklame hou juis omdat hy wil hê sy moet hom opvolg, voeg Booysen by. “Hy dink 10 jaar vooruit. As daar nou te veel aandag op haar was, kon dit haar kredietwaardigheid skade berokken.”

Booysen is ook bekommerd oor die voormalige minister van kommunikasie, Faith Muthambi, wat nou minister van staatsdiens en administrasie is.

“Hy moet iemand meer bevoeg vir dié werk kry. Die feit dat Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, ook nie gepos is nie, is ’n reuseklap in die openbaar se gesig, veral ná die staatstoelae-debakel.”

Is Malusi Gigaba en sy adjunk opgewasse om by Gordhan en Jonas oor te neem?

Nadat almal vermoed het die voormalige Eskom-baas Brian Molefe sal by Gordhan oorneem, is dit vreemd dat Gigaba dié pos oorneem.

“Zuma sal Molefe nog tot ses maande in die parlement los voor hy iets met hom doen. Hy het wel planne met hom,” sê Venter. Booysen stem saam. “Dit kan ’n tydelike toegewing wees teenoor ANC-lede wat gekant is teen Molefe se aanstelling.”

“Gigaba is wel opgewasse vir die pos,” sê Venter.

“Die aanwysing van Sifiso Buthelezi, wat voorheen die voorsitter was van die direksie van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), as Gigaba se adjunk, is kommerwekkend. Sy hande was glo glad nie skoon in sy dae by Prasa nie. Hy is ’n Zuma-man,” sê Venter.

Wat is volgende vir Pravin Gordhan?

Gordhan is nou ingeburger by die anti-Zuma-geledere, sê Booysen, en kan dié groep meer mag gee.

Tog is hy nie ’n aktivis nie, maar eerder ’n stille werker, sê Venter. Hy sal moontlik die politiek verlaat en maklik ’n toppos in die finansiële wêreld kry, sê Booysen.

“Hy is al 67 jaar oud en kan rustig aftree. Hy is nou in die kamp van die groot korporatiewe name,” voeg Venter by.

Hoe groot is dié politieke krisis werklik?

Dit is die begin van die ANC se verbrokkeling, sê Venter. “Hy het ANC-leiers geïgnoreer, hulle nie geken nie en eenvoudig gedoen wat hy wil. Dit is iets wat ek laas gesien het in 1989 in P.W. Botha se dae.”

Hy voorspel oproer teen Zuma gaan begin by die openbare gedenkdiens vir die ANC-veteraan Ahmed Kathrada in Soweto Saterdag.

“Zuma het nou sy hand oorspeel en dit gaan waarskynlik tot sy vroeë uittrede lei en die ANC geweldig benadeel.”