Kaas is ’n lekker en vinnig peuselhappie vir ma’s en kinders. Dit voorspel soms niks goeds vir mamma se heupe nie, maar wat van die kinders?

Kaas is goed vir kinders omdat dit kalsium- en proteïenryk is, sê die dieetkundige Lila Bruk. Kalsium sorg vir sterk bene en tande. Maar sy waarsku dat harde kase, soos gouda en cheddar, baie versadigde vet bevat.

“Kaas is wonderlik vir kinders vanweë die hoë proteïen- en kalsiuminhoud. Dit is ook ’n gerieflike peuselhappie vir kinders en is maklik om saam te dra as jy die verpakte blokkies kry,” sê Lila.

Sy sê kinders kan tot drie porsies kaas per dag eet. ’n Porsie is ’n harde kaassoort so groot soos ’n vuurhoutjiedosie of twee eetlepels maaskaas.

Sy sê harde kase met verminderde vet en laevet- of vetvrye maaskaas is die beste as jy jou of jou kind se gewig dophou, maar jy moet versigtig wees voor jy jou kind laat dieet. “Dis altyd die beste om by ’n geregistreerde dieetkundige aan te klop as jy bekommerd is oor jou kind se gewig. Gesels met hulle oor hoe jou kind gewig kan verloor en hoe julle te werk kan gaan,” sê Lila.

Kinders hoef hulle nie te bekommer oor gewig aansit as hulle die voorgeskrewe porsies per dag eet nie, maar onthou; te veel van enigiets is nooit goed nie.

- Shandukani Mulaudzi