Kaapstad is pas deur Lonely Planet aangewys as die derde beste vakansiebestemming in die wêreld. Die Moederstad is kort op Parys (Frankryk) en Trinidad (Kuba) se hakke.

Volgens ’n verklaring van die Stad Kaapstad is dié erkenning te danke daaraan dat die stad vroeër aangewys is as die World Design Capital vir 2014.

Hier is die 10 topplekke:

Leeukop

Gaan klim Leeukop een volmaanaand uit. Begin klim terwyl dit nog lig is en sien hoe die son oor die Moederstad sak. Die liggies sal jou betower! Maak net seker jy gaan nie alleen nie en dat jy ’n kopliggie saamneem.

Charly’s Bakery

Die familieonderneming in Canterburystraat is die plek waar Charly’s Cake Angels hulle manjifieke koeke vir enige geleentheid optower. Hulle rooifluweelkolwyntjies is legendaries.

Houtbaai

Vars vis en seelug is volop hier. Ry sommer kuslangs en geniet die pragtige uitsig oor die Atlantiese Oseaan.

Blommemark in Adderleystraat

Van Maandag tot Vrydag tussen 09:00 en 16:00 kan jy tussen Strand- en Darlingstraat die varsste blomme koop. Die kleurryke bloeisels en blommeverkopers is ’n ervaring wat veel meer as net blomme bied.

Die Old Biscuit Mill

Woodstock word dikwels geag as die kreatiewe middelpunt van Kaapstad en die Old Biscuit Mill is een van die beste plekke om ’n versameling van dié kreatiwiteit onder een “dak” te sien. Besoek Albertweg 375 in Woodstock op ’n Saterdagoggend wanneer daar klere, keramiekware, handgemaakte produkte, allerhande kosstalletjies en dikwels ook musiekvertonings by ’n feestelike mark te sien is.

Mzoli’s

Geniet die Moederstad se lekkerste shisa nyama (braaivleis) in die hartjie van Guguletu. Jy kan jou eie bykosse en drinkgoed saamneem. Kom vier die Guguletu-leefstyl saam met die inwoners en ander toeriste, en maak seker jy bespreek vroegtydig.

Silwermyn

Die Silwermyn-natuurreservaat is deel van die groter Tafelberg Nasionale Park. Hier kan jy teen ’n rustige pas maklike staproetes kafdraf en die natuurskoon geniet. Boonop is dit net 20 minute se ry van die middestad.

Observatory

As jy op soek is na byderwetse restaurante, tweedehandse winkels en klein plekkies wat nog nie deur die massas ontdek is nie, moet jy beslis ’n draai gaan maak in Observatory. Ry sommer deur Laer-Hoofweg en laat jou verlei deur al die interessante plekkies.

Tonneltoere

Dit is beslis net vir die avontuurlustige toeris! Die toere vind onder die Moederstad se strate plaas, waar jy tussen een en drie uur lank in die ondergrondse kanaal van die stad rondloop. Van dié tonnels is reeds in 1652 gebou. Die toer begin by die Kasteel van Goeie Hoop en eindig óf aan die hange van Tafelberg óf weer by die beginpunt. Vir nog inligting oor hoe om dié toer te bespreek, klik hier.

Springbokmuseum

Suid-Afrika se trotse rugby-erfenis word gevier in die nuutste museum in die stad. Ou rugbytruie, bekers, foto’s en video’s word hier uitgestal. Huisgenoot was daar toe die museum geopen is. Klik hier om meer daaroor te lees.

Saamgestel deur Shané Barnard

Ekstra bronne: iol.co.za, capetownmagazine.com