Die stad het inwoners gevra om waterverbruik te verminder tot onder  600 miljoen liter per dag. Die stad se vorige teiken was om onder 700 miljoen liter per dag te gebruik.  

Waterverbruik in die stad het die vorige week van 685 miljoen liter tot 745 miljoen liter gestyg.

Dit wil voorkom of inwoners waterverbruik volgens weerstoestande aanpas, het Xanthea Limberg, raadslid vir water, afvaldienste en energie, in ’n verklaring gesê.

“Met ander woorde, hulle gebruik meer water as dit warm word, maar skynbaar ook meer wanneer dit reën. Dis nie volhoubaar nie. Ons moet in hierdie krisistye water op ’n konsekwente wyse gebruik.”

Die stad het in die verklaring gesê damvlakke het gedaal tot 23,3 persent.

Met die laaste 10 persent van ons damwater wat meestal onbruikbaar is, is damvlakke effektief op 13,3 persent, het die stad gesê.

Die stad het ook aangekondig dat die burgemeester Patricia de Lille ’n “fees van idees” oor water in Junie beplan.

By die fees kan verskaffers van grootskaalse watervoorsienings- en waterbesparende toerusting idees en aanbiedinge met stadsamptenare deel, het die stad gesê.

Bron: News24