Tina Coetzee, wat R200 000 aan ’n huurmoordenaar sou betaal, se aansoek om borgtog is Maandagoggend toegestaan. Tina (44) is verlede week aangekeer ná die polisie haar by die Lansdowne-treinstasie in Kaapstad vasgetrek het kort ná sy die eerste R5 000 aan die vermeende huurmoordenaars betaal het, berig Netwerk24.

Volgens ’n verklaring op die Manenberg-polisiekantoor se Facebookblad sou Tina se man, Austin (66), voor die afgelope naweek “vermoor” moes word. Sy het glo duidelike planne gehad van hoe en wanneer dit moes gebeur.

Luidens berigte het Tina ’n paar weke gelede vir een van haar werknemers gevra waar sy ’n huurmoordenaar kan kry om haar man te vermoor. Dié werknemer het die polisie ingelig van Tina se planne en die speurders van Manenberg se eenheid teen ernstige geweldsmisdade en speurders van die polisie se provinsiale hoofkantoor, het die saak begin ondersoek.

Die speurders, wat gemaak het of hulle huurmoordenaars was, het vir Tina glo meer as een keer ontmoet om die transaksie en die huurmoord te bespreek. Tydens die laaste ontmoeting is die geld oorhandig en die res van die speurders het op Tina en die “huurmoordenaars” toegesak. Sy het Donderdag vir die eerste keer in die hof verskyn.

Tina het Maandagoggend op aanklag van sameswering tot moord in die Wynberg-landdroshof verskyn. Sy het haar gesig met ’n serp toegemaak en het dit eers afgehaal toe sy voor landdros Goolam Bawa verskyn.

Sy is borgtog van R30 000 toegestaan. As deel van Tina se borgtogvoorwaardes moet sy elke dag by die polisiekantoor in Elsiesrivier aanmeld. Haar paspoort is ook ingehandig en indien sy die Wes-Kaap wil verlaat, moet sy skriftelike toestemming kry.

Tina is die suster van die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen-jokkie Andrew Fortune.

Bure van die Coetzee-egpaar in Kenilworth het Vrydag aan Huisgenoot gesê Tina en Austin is die toonbeeld van ’n “perfekte paartjie”. “Hulle is baie liefdevol met mekaar. Ek wens meer paartjies is soos hulle,” het een van hul bure gesê. Tina is die ma van drie seuns, waarvan die jongste (3) uit haar huwelik met Austin gebore is.

Tina is volgens IOL die eienaar van ’n onderneming in Kaapstad se noordelike voorstede wat ID-foto’s neem. Maar sy was ook voorheen betrokke in die wêreld van perdwedrenne en het in ’n stadium ook perde-komberse aan afrigters verskaf, berig die perdesport webblad Sporting Post.

Tina moet weer op 2 Desember in die hof verskyn wannneer daar vasgestel sal word in watter hof haar saak verhoor sal word. Nie Austin of Andrew wou by navraag kommentaar lewer nie.

Bykomende bron: News24