[caption id="attachment_144029" align="alignnone" width="600"]Die gelukkige paartjie (Foto: Verskaf) Die gelukkige paartjie (Foto: Verskaf)[/caption]

Jason Saunders – “die mees nederige, sorgsame en liefdevolle mens” – veg om sy lewe weens brein- en ruggraatkanker.

“Hy slaap die meeste van die tyd. Wanneer hy wakker is, hallusineer hy soms. Hy het ook nie beheer oor sy liggaamlike funksies nie . . . Dis baie erg om hom so te sien. Hy was ’n fikse, sterk man; ’n atleet,” vertel Nina vanuit ’n kliniek in Durbanville.

“Ons is verlede Donderdag hier in sy hospitaalkamer getroud. Dit was deel van sy emmerlys om met die vrou van sy drome te trou. Hy wou nie meer wag nie, want die lewe is te kort, het hy gesê.” Hulle is al drie jaar saam. Hulle het in Oktober verlede jaar saam ’n huis gekoop. “Ons het so uitgesien na ons lewe saam,” vertel Nina.

[caption id="attachment_144033" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Sy en Jason het mekaar by die werk ontmoet waar hulle vir dieselfde telekommunikasiefirma gewerk het. Maar sy het bedank om na hom om te sien en by hom te wees soveel sy kan.

’n Ernstige, aggressiewe en terminale vorm van breinkanker (glioblastoom multiforme stadium 4) is in Maart by hom gediagnoseer. ’n Noodoperasie is uitgevoer om die gewas te verwyder en hy moes bestraling en chemoterapie kry.

“Die dokters het hom net ’n paar maande gegee om te leef,” onthou Nina.

“Hulle het gesê dis die mees aggressiewe gewas wat die vinnigste gegroei het wat hulle al ontdek het. Maar ’n MRI-skandering in Julie het getoon die gewas het gekrimp en hy hoef eers in Oktober terug te kom.

“Dit het beter begin lyk en ons het op 1 Augustus verloof geraak. Ons sou trou op 8 November, op my verjaardag. Die NG kerk Bloubergstrand was al daarvoor bespreek,” vertel sy.

Jason het begin kla van ondraaglike rugpyn, daaglikse nekspasmas en daaglikse braking. Toe die skandering verlede maand gedoen is, het dit getoon die kanker het nou na sy ruggraat versprei en nog ’n reeks bestralings, chemoterapie en ’n operasie lê voor.

“Kanker het sy vermoë weggeneem om te bestuur, branderplank te ry, ver ente te stap en ’n salaris te verdien, maar dit sal nie sy veggees, positiwiteit, geloof en deursettingsvermoë blus nie,” vertel Nina.

Sowat 400 mense het gister met die hoofstraat in Bloubergstrand langs gestap om geld in te samel vir hom en hul steun te wys. “Jason het my geleer om positief te bly. Dis ook mense se gebede wat ons dra.”

Sy mediese fond is uitgeput. Hulle het meer as R675 000 nodig en het met ’n veldtog op die internet begin. Tot dusver is net minder as 19 persent al ingesamel:

“Ons weet nie almal kan geld skenk nie, maar ons is net dankbaar dat mense aan ons dink in hierdie tyd . . . Ons kan nie wag om in die kerk te trou nie,” sê Nina.