Inwoners van die voorstad oos van die stad was geskok om Maandag ’n vrou se lyk in ’n plas bloed te vind.

Die polisiewoordvoerder sers. Noloyiso Rwexana sê die vrou se lyk is Maandag om ongeveer 08:40 in Sone 26, Langa, gevind.

Sy het verskeie beserings opgedoen voor sy dood is.

Niemand is nog in verband met die vrou se dood in hegtenis geneem nie en die polisie doen ’n beroep vir enige inligting wat hulle kan help om haar moordenaar te vind.

Die inligting kan oorgedra word aan Crime Stop by 08600 10111 of die ondersoekbeampte kapt. Mildred Sigenu by 021 695 8019.

Dit kom ná die moord op Hannah Cornelius, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, nadat sy en ’n vriend gekaap is terwyl hulle in ’n motor gesels het.

Cornelius se vriend het daarin geslaag om by die kattebak uit te spring en mense by ’n huis daar naby om hulp te vra.

Die land is nog geskok oor die moord op die 22-jarige Karabo Mokoena wie se verbrande lyk op 29 April in ’n veld in Lyndhurst, Johannesburg, gevind is nadat sy die vorige dag as vermis aangegee is.

Haar kêrel, Sandile Mantsoe, is in verband met haar moord in hegtenis geneem.