[caption id="attachment_160098" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

“Daar is ook nog nie bewys dat beurtwater tot werklike waterbesparing lei nie. Dikwels het dit die teenoorgestelde uitwerking,” het Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afvaldienste, aan News24 gesê.

Beurtwater kan daartoe lei dat lug by die pypstelsels ingaan. “Dit kan lei tot gebarste hoofwaterpype, gepaardgaande vermorsing en die swakker watergehalte weens die sediment wat opkom wanneer die pyp hervul word,” sê Xanthea.

Die Stad sal eerder beperkings probeer instel vir waarvoor drinkbare water gebruik mag word, en ook deur opvoeding en media-betrokkenheid.

In Januarie is vlak 3B-waterbeperkings die eerste keer ingestel. Dit beperk die gebruik van drinkwater vir tuinmaakdoeleindes.

Die Stad het Maandag in ’n persverklaring gesê damvlakke in die provinsie het met 1,7 persent na 34,5 persent verminder. Daagliks word 801 miljoen L water in Kaapstad gebruik – 101 miljoen L bo die teiken van 700 miljoen L per dag.

Die Stad sal dit oorweeg om waterdruk te verlaag, maar konstante watertoevoer te handhaaf waar die infrastruktuur beskikbaar is.

Verbruikspatrone en damvlakke in die komende weke sal bepaal of dit nodig gaan wees.

Donderdag het die Stad gesê daar word beplan om dié wat die meeste water gebruik se name bekend te maak.

“Ons versterk ons pogings om water te bespaar; ons gaan die name bekendmaak van inwoners wat hulle nie hieraan steur nie,” het ’n woordvoerder, Zara Nicholson, gesê.

Bron: News24