Stephen het die afgelope week hofdokumente ontvang waarin Ann Murat hom dagvaar omdat hy hulle eiendom onregmatig betree het.

Klein Maddie, met die kenmerkende merkie in haar oog, het die verbeelding aangegryp toe sy op 7 Mei 2007 vermis geraak het op die skilderagtige Portugese kusdorpie Praia de Luz. Oral is na haar gesoek, maar 15 maande ná die tragiese gebeure het die polisie die saak gesluit.

Toe Stephen in 2010 die eerste keer van die raaisel hoor, is sy nuuskierigheid geprikkel. Mettertyd het dit sy lewe oorgeneem. Ná diepte-navorsing waartydens hy elke denkbare verklaring en dokument gelees het en nadat hy elke moontlik leidraad opgevolg het, het hy tot die gevolg gekom dat Maddie baie naby die woonstel waar hulle tuisgegaan het, begrawe is.

Die erf waarin hy meen sy begrawe is, behoort aan Ann Murat, wat daar woon saam met haar seun, Robert. Dié was eers ’n verdagte, maar die polisie kon nie genoeg bewyse kry om hom aan te kla nie.

Stephen het die Murats se agterplaas in 2012 deursoek, en volgens hom is alle aanduidings daar dat iets in Robert-hulle se agterplaas begrawe is. Tog het die owerheid nog nooit so ver gekom om dit te gaan opgrawe nie.

Stephen was veronderstel om voor middel April op die dagvaarding te reageer, maar hy kon nie omdat dit eers na die verkeerde adres gestuur is. Hy raadpleeg nou met sy prokureurs oor wat hom te doen staan.

“Dit is baie vreemd dat sy die aansoek eers ná twee jaar gebring het,” meen hy.

-Marelize Potgieter