’n Man van Kaapstad het ’n petisie ingedien by die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, wat vra dat werkende mans 10 dae vaderskapsverlof moet kry.

Die finansiële bestuurder Hendri Terblanche (38) van Brackenfell het die petisie op 3 Julie ingedien, en het elke parlementslid genader om hulle te vra om ’n wetsontwerp vir oorweging van die nasionale vergadering op te stel.

Hendri se vrou, Giselle, het in November die lewe aan ’n tweeling geskenk. Hulle is drie maande vroeg gebore. Een het 139 dae in die hospitaal deurgebring en die ander 79, vergeleke met die drie dae wat babas gewoonlik moet bly.

Volgens Hendri is die drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof wat pa’s tans kan neem nie genoeg in die geval van ’n keisersnee-bevalling nie; ook nie vir ouers wie se baba vroeggebore of siek is nie, en ook nie vir enige ander noodgevalle nie.

“Almal sê baie maklik pa’s is nie betrokke genoeg in hul kinders se lewe nie, maar met net drie dae betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof, het hulle van die begin af ’n agterstand.”

Die wet moet verander sodat pa’s meer betrokke moet wees, meen hy.

Lees meer oor die vaderskapverlofopsies vir SA pa’s hier en volg Hendri op Twitter by @DadToBeAdvice vir meer inligting oor sy petisie.