Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 18-jarige meisie van Kaapstad 98 keer met ’n mes doodgesteek het, word verbind met minstens vyf ander moorde en het drie verkragtingsaanklagte teen hom sowel as vier van poging tot moord.

Cameron Wilson (19) het Donderdag weer in die Hooggeregshof in Kaapstad verskyn in verband met die moord op Lekita Moore (18) nadat haar naakte liggaam op 11 September vanjaar in ’n veld gevind is naby haar huis in Valhalla Park in Kaapstad.

Haar geslagsdele, maag en een bors is ook gruwelik met die mes waarmee sy vermoor is, geskend.

Cameron bly in aanhouding tot sy verhoor in Februarie begin, het die hof Donderdag beslis. Daar word ook beweer hy het minstens vyf ander moorde gepleeg.

Hy het Donderdag in die hof ’n klein houtkruisie om sy nek gedra en gaan glo onskuldig pleit.

Hy was uit op borgtog toe die gru-moord op Lekita gepleeg is. Afgesien van die vyf ander beweerde moorde het Cameron glo ook al vier mense probeer doodmaak en drie vroue verkrag.

Hy het onder meer ’n neef van hom se meisie verkrag en met ’n mes gesteek. Sy het genadiglik die aanval oorleef. Charles het ook ’n ander meisie met ’n mes aangeval, ’n motorband om haar lyf gesit en haar aan die brand gesteek. Sy het later weens haar beserings gesterf.

Lekita se pa het Donderdag buite die hof aan verslaggewers vertel die gesin is gebroke en hartseer.

"Hy het my hele familie geknak," het Charl Moore gesê. "Ek is vreeslik hartseer oor my dogter," het hy met oë vol trane bygevoeg.

Sy vrou en Lekita se ma, Shireen, is volgens hom so verpletter deur Lekita se dood dat sy ’n ineenstorting gehad het en in ’n kliniek opgeneem is.

"Haar kop het gebreek. Sy het dae aan-een gaan slaap op die stuk grond waar hulle Lekita se liggaam gevind het."