Hy het die kind glo met R5 probeer omkoop om stil te bly.

Die beweerde verkragting het Vrydagaand omstreeks 20:00 by die verdagte se huis in Bonteheuwel, Kaapstad plaasgevind.

Luidens berigte het die kind se ma die polisie ontbied toe sy die man en haar kind in die man se badkamer aantref. Hy was glo reeds besig om die kind te verkrag.

Die kind en haar ma woon in ’n struktuur in die man se agterplaas.

Albert Frits, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het die verkragting ten sterkste veroordeel.

“Die ma van die kind moet lof kry dat sy onmiddellik ’n aggressiewe soektog na haar kind geloods het toe sy agterkom die kind vat te lank om terug te keer nadat sy 'n taak moes verrig. Haar spoedige reaksie het bygedra daartoe dat die kind nie verder seer kon kry nie.”

Die kind is gestuur om 'n emmer met water te vul.

Frits sê ook die idee dat die verdagte die kind met R5 probeer omkoop het om haar stilswye te verseker, is walglik.

“Ons doen weereens ’n versoek op ons kinderbeskermingsvennote in die Suid-Afrikaanse Polisiediens om ’n deeglike ondersoek te loods en sodoende ’n sterk saak vir vervolging voor te berei. Ons moet ’n sterk boodskap uitstuur na die gemeenskap dat daar geen verdraagsaamheid is vir nalatigheid, mishandeling en moord van ons kinders in die Wes-Kaap nie. Genoeg is genoeg,” sê Frits.

Die Wes-Kaapse department van maatskaplike dienste het maatskaplike werkers na die familie en slagoffer gestuur wat berading sal verskaf. 

“Ek wil ’n beroep doen op ouers en gemeenskappe om ekstra versigtig te wees met hul kinders. Geen regering kan die skoene van ’n versigtige en verantwoordelike ouer volstaan nie. Ouers is die belangrikste weerstand wat gebied kan word teen kindermishandeling en moord.”

Die vermeende verkragter verskyn Donderdag 3 Augustus in die landdroshof in Bishop Lavis.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die ondersoek duur voort.