“Ons kon dit nie glo nie, ons was weggeblaas, excuse the pun!”

Só vertel Dévan Swanepoel (27) van Kaapstad oor die noue ontkoming toe ’n gesin se brandende Ford Kuga ontplof het langs hom en sy vriend, Gregg Whitehead (ook 27).

Dié Kuga-skandaal maak al geruime tyd landwyd opslae met altesame 46 van die motors wat na bewering al lukraak aan die brand geslaan en blykbaar een insittende se lewe geëis het. Elf van die voorvalle het net die laaste maand plaasgevind.

Hy vertel toe die voorval op 2 Januarie net voor die Sir Lowryspas buite Somerset-Wes in die Wes-Kaap gebeur, was die nooddienste reeds op die toneel. Die insittendes van die Kuga het so 100 m van die voertuig gestaan.

Dévan, ’n entrepreneur, vertel hy en Gregg, ’n onderwyser, was ten tyde van die voorval op pad terug van vakansie in Hermanus. Gregg het die video in die verbygaan geneem.

“Ons het net oor ’n bult gekom toe ons die rook sien – en toe oomblikke later die ontploffing toe ons verbygaan.” Dit is die skokoomblik in die video wanneer die buiteband en venster bars. Hul voertuig, ’n Mitsubishi Pajero, is gelukkig nie beskadig nie.

“Toe ons verby die mense ry – ’n man, jong vrou en twee kinders – het dit gelyk asof die vrou huil. Ek kan net dink hoe traumaties dit vir iemand moet wees as jou motor aan die brand slaan.

Ford het intussen die 4 556 Ford Kuga 1.6 L-modelle landwyd as ’n veiligheidsmaatreël herroep.

’n Aankondiging op Ford se webtuiste lees: “Ford het begin met ’n veiligheidsherroeping van die Kuga 1.6 om die enjin se oorverhitting te hanteer. Alle voertuie, insluitend dié wat reeds nagegaan is, moet na ’n Ford-handelaar gebring word. Ons is toegewyd om jou mobiel te hou; dus sal reëlings deur jou Ford-handelaar of Ford se kliëntediensafdeling getref word om ’n leenmotor te verskaf, sou jy verontrief wees."

[caption id="attachment_154961" align="alignnone" width="300"]Ford het Kuga-eienaars laat weet hul motors word teruggeroep. Die Ford-webtuiste het Kuga-eienaars laat weet hul motors word teruggeroep.[/caption]

Dévan vertel met die dat Kuga nou in die nuus is, het hy die video aanvanklik net met sy Facebook-vriende gedeel. Dit was teen Donderdag vroegmiddag al meer as 2 500 keer gekyk.

Dévan meen dit is goed dat Ford nou stappe doen. “Ek bedoel, hulle moet die probleem regmaak. Dit is mense se lewe wat op die spel is. Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar.”

Ford het intussen Huisgenoot se navrae na sy Suid-Afrikaanse verteenwoordiger verwys.