Van die stad se 51 waterinspekteurs het verlede week op Tygerberg en Goodwood toegesak en ’n man met R2 000 beboet omdat hy sy oprit met skaars drinkwater afgespuit het.

Die beamptes het welige tuine in die visier gestel en verduidelikings van huiseienaars geëis, maar gevind baie mense gebruik boorgate.

By een huis moes ’n inwoner bewys dit is regtig boorgatwater wat gebruik word toe die inspekteurs die huis se hoofwatertoevoer afsluit om te kyk.

Maar die stad sê hy het hulp nodig om inwoners te oorreed om aan die vlak drie-waterbeperkings te voldoen.

Daarvolgens is dit verbode om met drinkwater tuin nat te gooi of jou motor te was.

“Gegewe dat die stad aan bykans een miljoen klante moet water verskaf en dat die meeste vermorsing agter geslote deure plaasvind, is dit nodig dat inwoners ons help en beweerde ootredings aanmeld en bewyse daarvan verskaf,” lui ’n verklaring.

Ootredings van waterbeperkings kan aangemeld word by: water.restrictions@capetown.gov.za.

Die stad sê sedert die instelling van waterbeperkings is 383 kennisgewings van oortredings en 225 kennisgewings om in die hof te verskyn uitgereik. Die boetes kan so hoog as R10 000 wees.

Bron: News24