Die 23-jarige man het Vrydag op Facebook gesien ’n VW Golf word vir R25 000 adverteer, het die Wes-Kaapse polisiewoordvorder FC van Wyk gesê. In die advertensie is die motor beskryf en ook foto’s verskaf.

Die student het toe die verkoper gekontak en hulle het ooreengekom om in Manenberg te ontmoet.

FC sê die voornemende koper en sy twee vriende kon nie die adres opspoor nie en is gelei na ’n huis verder af in die pad. Toe hulle daar kom, het twee mans in die motor gespring en een het hulle met ’n vuurwapen gedreig. Hul selfone en R80 kontant is gesteel.

“Die slagoffer en sy vriende is gedwing om in Manenberg rond te ry totdat hulle dit kon regkry om die verdagtes in Jordanweg af te laai.”

Speurderkonstabel Joshua Williams het die mans opgespoor, maar inwoners is bang vir weerwraak deur bendes en dis moeilik om getuies te kry. FC sê twee mans, van 27 en 53 jaar is eindelik in hegtenis geneem en aangekla van gewapende roof.

Hulle sal na verwagting Woensdag in die Athlone-landdroshof verskyn.

Polisie het voornemende kopers aangeraai om vrae oor advertensies te vra en die egtheid daarvan te verifieer.

Bron: News24