’n Pasgebore baba het oorleef nadat sy ma hom na bewering die naweek in Kaapstad met ’n mes in die nek gesteek het, het die Wes-Kaapse polisie Maandag gesê.

Die baba was net ’n paar uur oud, het konst. Noloyiso Rwexana gesê.

Sondag het beamptes ’n klag oor aanranding by die daghospitaal in Macassar opgevolg.

’n Verpleegsuster het aan die polisie gesê die vrou, wat by die hospitaal was, het by die huis die lewe geskenk. Die 33-jarige vrou het glo die baba met ’n mes gesteek voor sy hom in ’n kombers toegedraai en na die hospitaal gebring het.

Al het die baba in ’n skoktoestand gegaan, het die mes geen belangrike struktuur in die nek getref nie.

Die baba is in die kraameenheid van die Macassar-gemeenskapsentrum opgeneem en later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.

Die hospitaal se woordvoerder, Laticia Pienaar, het Maandag gesê die baba is in ’n stabiele toestand. Sy het gesê sy hospitaalverblyf word dalk verleng weens die voortgaande polisieondersoek.

Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling het nie dadelik op navrae gereageer oor die baba se toekoms nie.

Die ma sal Dinsdag op aanklag van poging tot moord in die landdroshof in Somerset-Wes verskyn.

Bron: News24