’n Hittegolf in dele van die Wes- en Noord-Kaap sal na verwagting tot Dinsdag voortduur, het die SA Weerdiens gesê.

“’n Hittegolf met volgehoue hoë temperature sal na verwagting tot minstens Dinsdag oor die suidelike binneland van die Noord-Kaap, Weskus-distrik en westelike dele van die Kaapse Wynlande voortduur,” het hulle Maandag gesê.

In Oudtshoorn in die Wes-Kaap sal die kwik na verwagting tot 36°C styg, terwyl 39°C vir Upington in die Noord-Kaap voorspel word. Kaapstad gaan vandag gebuk onder hittestoestande wat die kwik kan sien styg tot soveel as 34°C.

’n Uiters hoë brandgevaar word verwag op plekke in die binneland van die Noord-Kaap, die oostelike dele van die Vrystaat, die Weskus-distrik, Kaapse Metropool en Sentraal-Karoo.

Daar is ook waarskuwings oor moontlike kwaai donderstorms oor die oostelike dele van die Noordwes, die Vrystaat en oostelike dele van die Noord-Kaap.

Bron: News24

Lees ook:

Vrou bak eier op snikhete plaveisel

Wat jy moet weet van hitte-uitputting en sonsteek