cleaning-268126_1920

Hulle was op soek na ’n welriekende huishulp wat minder as die minimum loon betaal sou word en sewe dae per week sou moes werk. Ook sou hulle haar paspoort by hulle hou.

In die advertensie, wat op Gumtree geplaas is en 7 Maart gedateer is, het ene mev. Allie gesê sy soek “’n hardwerkende huisbediende” teen ’n salaris van R2 000 per maand.

“Daar sal van jou verwag word om opdragte uit te voer en deeglik en nougeset skoon te maak (op die wyse wat ek van jou verwag),” lui die advertensie. Ook om “skoon te wees en lekker te ruik en elke dag te bad en skoon aan te trek (twee keer per dag, indien nodig).”

Mev. Allie se man, Abubkar Allie, het Donderdag aan News24 gesê hy kan nie insien dat iets daarmee skort om uit te stippel wat hulle vereis en minder as die minimum loon te betaal nie.

Hy sê die beginsalaris was R2 000, wat tot R2 500 verhoog sou word mits al die werk gedoen word “soos (mev. Allie) dit wil hê”. Die het gestipuleer die salaris sou verhoog word.

Die egpaar het ook vereis dat die huiswerker op die eiendom slaap en sewe dae per week werk met net twee Sondae af per maand.

Abubkar sê hulle het die advertensie verwyder, want hulle het die pos gevul. Sy vrou het “’n paar” boodskappe in reaksie op die advertensie ontvang.

Abubkar sê die gesin kan net R2 000 per maand bekostig, want hy het onlangs ’n onderneming as ’n “algemene werker” begin.

“Dit is basies al wat ons kan bekostig. Ek het net iemand nodig om my vrou te help,” sê Abubkar.

‘Ek verstaan nie die probleem nie’

Die minimum loon vir huiswerkers in stedelike gebiede wat 27 uur of langer per week werk, is R12,42 per uur, R559,09 per week (van 45 uur) en R2 422,54 per maand. Maar omdat die egpaar se werker langer ure moet werk, moet hulle haar, met oortyd ingereken, minstens sowat R3 500 betaal. Abubkar sê hy was nie bewus wat die minimum loon was nie.

“Kyk, dis nie ’n permanente pos nie. Mense kan op ’n gereelde basis kom en gaan. Ons het al mense gehad wat minder as ’n week gewerk het. Daar is mense wat kan bekostig om meer te betaal, maar ons kan eenvoudig nie.”

Volgens die advertensie moet die huiswerker ’n geldige paspoort hê wat “mev. Allie” by haar sal hou.

“Jy sien, wat voorheen gebeur het, is dat goed, klere en goed, uit ons huis gesteel is, en ons het ’n waarborg nodig gehad dat dit nie weer sou gebeur nie,” sê hy.

Abubkar sê die gesin verkies buitelandse huiswerkers.

“Veral Zimbabwies. Ons het in die verlede met hulle gewerk en ons vertrou hulle,” sê Abubkar.

“Ek verstaan nie waarom daar enige probleem daarmee is nie. Baie mense wat vir ons gewerk het, was tevrede met wat ons betaal het en hulle sou minder aanvaar het.

“Ons bied hulle ’n huis. Ons bied hulle lakens vir die bed.”

Maar Twitter-gebruikers het nie doekies omgedraai nie.

“Dit is walglik,” het @jennabruwer getwiet, terwyl @mattduplessis gesê het: “Ek dink jy sal vind dis standaardpraktyk in die bedryf, dié mensehandel en hedendaagse slawerny.”

Bron: News24