“Sedert die vroeë oggendure is agt huise beskadig. Drie is erg beskadig. Een en Noordhoek, twee in Tokai, een in die Steenberg-gholflandgoed en vier in Klein Constantia,” sê die woordvoerder Charlotte Powell.
“In hierdie stadium is sowat 300 mense ontruim en geen beserings aangemeld nie.” Charlotte sê die ontruimings was in Tokai, Noordhoek en Chapmanspiek.
“Die brandpunte waar brandbestryders die brande probeer bedwing, is Clovelly, Klein Constantia en Tokai,” sê sy.
Die paaie wat steeds gesluit is, is Boyes-rylaan, Chapmanspiek en Clovelly Road. Sy sê sowat 300 brandbestryders van verskeie plekke – onder meer Werk met Vuur, die Stad Kaapstad en Tafelberg Nasionale Parke – werk onverpoos.
Verskeie reddingspanne het deurnag gewerk om die brande te probeer stuit.
Maandag het die Stad Kaapstad gesê drie helikopters het Houtbaai en Tokai tot sonder met waterbomme bestook.
Die brand het Sondag uitgebreek, maar is in bedwang gebring. Dit het net ná tweeuur Maandagmiddag weer in Muizenberg bo Boyes-rylaan begin en is deur sterk winde aangedryf.
Dit het na Ou Kaapse Weg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei.
’n Brandbestryder van die stad is met brandwonde in die hospitaal opgeneem terwyl 52 verswaktesorg-inwoners van die Noordhoek-aftreeoord vir rookinaseming behandel is.

Vyf huise is langs Silvermyn in Noordhoek vernietig.

Daar was ook skade aan dele van die Tintswalo-oord aan die voet van Chapmanspiek.