Dit was vir Jude Law wonderlik bevrydend om kaal op die Dom Hemingway-stel te wees.

Die 40-jarige akteur vertolk die rol van Dom Hemingway in die gelyknamige rolprent. Hy verskyn in ’n paar tonele in die fliek poedelnakend; een keer loop hy byvoorbeeld kaal in wat na ’n wingerd lyk. Jude sê hy het met die verfilming van hierdie tonele ’n gevoel van vryheid ervaar.

Hy het aan die tydskrif Empire vertel: “Ek het daarop aangedring dat ons die naaktoneel eerste verfilm. Ek wou kaal op die stel rondloop. Ek het gedink: As ek dit kan doen met die rolprentspan om my, en dit my nie pla nie, om grafies en weerloos te wees, sal dit met ons goed gaan.

“Ons het dit toe op ’n toetsdag geskiet, dit was nie eens ’n verfilmingsdag nie. En dit was ’n wonderlike bevryding, ’n wonderlike gevoel dat alles en enigiets moontlik is.”

Jude moes vir die rolprent amper 13 kg aansit. Om dit reg te kry het hy tien Coca-Cola-koeldranke per dag gedrink en kalorieryke kos geëet. Om die voorkoms van ’n swaar roker te kry, het hy ook 40 sigarette per dag gerook.

Die Britse ster sê om ’n karakter te vertolk wat baie eet, rook en drink, het ’n liggaamlike tol geëis. “Ek het siek daarvoor geword,” het hy gesê. “Teen die einde, die laaste paar weke, het ek liggaamlik siek en leeggetap gevoel. Ek het waarskynlik saans te veel gedrink, ek het verseker te veel Coke gedrink en in die dag gemorskos geëet; 40 per dag gerook . . .”