Die 745 mense wat ’n wêreldrekord in Nieu-Seeland probeer verbeter het, moes hul inhibisies én klere tuis los.

Die groep kaal swemmers het einde verlede jaar sonder ’n stekie klere aan die see by Gisborne in noordoos Nieu-Seeland aangedurf om die wêreldrekord te verbeter vir die grootste getal mense wat op een slag kaal baai.

Gisborne het wel dié rekord in 2012 gehou toe 506 swemmers kaal ingeduik het, maar ’n groep van 729 swemmers het verlede jaar op die Playa El Playazo-strand in Vera, Spanje, dié rekord onder hul neuse weggeraap.

Die organiseerders van die Nieu-Seelandse gebeurtenis sal nou foto’s en videobeeldmateriaal na Guinness World Records stuur om weer in aanmerking te kom vir die eerste plek.

Bronne: dailymail.co.uk, tnvz.com.nz