Tientalle Amerikaanse mans sit nou met pap op hul gesig nadat ’n paar ontkleeklubs in San Francisco hulle na bewering uit duisende rande geswendel het.

[caption id="attachment_158829" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Van die kliënte se bankrekenings is sommer oornag leeggemaak.

Een van die klaers, net bekend as Steve, het aan die Mirror vertel $2 500 (sowat R33 000) is uit sy rekening geneem, en dit nadat hy gemeen het hy gaan net $250 (R3 300) vir ’n skootdans betaal.

Hy wou met sy debietkaart betaal, maar moes toe hoor die bank het die transaksie geweier. Steve het kontant gaan trek, maar tot sy skok ontdek sy rekening is leeg.

Ander mans vertel soortgelyke stories waar tot vier keer meer uit hul bankrekenings onttrek is as wat hul rekening by die klub was. Meer as 20 mans het nou na vore gekom met beskuldigings dat die klub hulle ingeloop het.

Die polisie het aan NBC-nuus gesê hulle ondersoek bedrogklagte teen die klubs Little Darlings, Garden of Eden, Roaring 20's en die New Century Theatre.

Die eienaars van die klubs ontken heftig dat hulle hul kliënte bedrieg het.

Bronne: Mirror, NBC News