Daar is sekere vrese of fobies wat aan ons bekend is – wie ken nie iemand met ’n vrees vir nou ruimtes, hoogtes of spinnekoppe nie? Maar het jy geweet daar is ’n naam vir byna elke fobie onder die son? Hier is vyf minder bekende vrese wat dalk verregaande klink, maar regtig bestaan.

1.       Eisoptrofobie

’n Mens sou die nare koningin in Sneeuwitjie daarvoor kon vergewe as sy later dié fobie ontwikkel het – dit is die vrees van spieëls. Eisoptrofobie is dikwels gegrond op bygelowe. Mens kan dalk bekommerd wees dat die breek van ’n spieël vir hulle ongeluk sal bring of dat ’n spieël ’n manier van kontak maak met ’n bonatuurlike wêreld is.

Die woord is afgelei van die Griekse woorde “eis” (wat beteken binne) en “optikos” (visie, beeld, sig).

2.      Chromofobie

Vir sommige mense is die idee van ’n kleurlose wêreld dalk vreesaanjaend en vreeslik vervelig, maar so ’n wêreld sal vir iemand met chromofobie – die vrees vir kleur – groot verligting bring.

Mense met ’n kleurfobie kan bang wees vir alle kleure of net ’n paar. Die vrees vir ’n bepaalde kleur het dikwels ook ’n aparte naam, soos xanthofobie (geel), leukofobie (wit), eritrofobie (rooi) en melanofobie (swart).

3.      Ablutofobie

Gee gerus vir iemand met ablutofobie  deodorant of parfuum as geskenk. Die naam is afgelei van die Latynse woord ablutere wat beteken “om af te was” en verwys na die abnormale vrees vir bad, was of skoonmaak. Snaaks genoeg kom dié fobie meer algemeen by kinders en vroue voor as by mans.

4.      Fagofobie

Verbeel jou jy ly aan die vrees om te sluk . . . Met die somer wat naderkom, wens party van ons dalk ons het minder gesluk tydens die winter, maar dit is ’n ernstige probleem en kan selfs tot wanvoeding lei. Dit word dikwels veroorsaak deur ’n slegte eet-ervaring en moenie verwar word met die vrees om te verstik nie – dit staan bekend as pseudodisfagie.)

5.      Heliofobie

Terwyl die meeste van ons ná ’n paar reëndae weer opgewonde raak oor sonskyn, sal iemand met heliofobie ’n wêreld daarsonder verkies. Heliofobie is die vrees vir die son. Iemand wat daaraan ly, sal soos ’n wafferse vampier sy bes doen om die son te vermy. Dit klink dalk heel skadeloos, maar iemand wat nooit sonlig ervaar nie, kan dalk ’n vitamien D-tekort ontwikkel.

Bronne: About.com, health.howstuffworks.com, Wikipedia.org