Vlug 8023 van VivaColombia het verlede Woensdag pas van die El Dorado Internasionale Lughawe in Bogota af opgestyg op ’n vlug na Rionegro, toe sy regterenjin aan die brand slaan. Die passasier, Sebastian Jimenez Boter, 31, het daarin geslaag om die materiaal op film vas te lê toe hy ’n ontploffing gehoor het kort nadat die vliegtuig opgestyg het.
'Ons het ’n lig gesien en het toe gedink die vliegtuig gaan ontplof.'

“Ons het ’n lig gesien en het toe gedink die vliegtuig gaan ontplof. Mense was verward en bang. Ons het die vlugkelnerin gevra wat gebeur het, maar sy was selfs nog banger as ons,“ het hy aan die Peruaanse koerant El Comercio gesê.

“Dit het my herinner aan die vliegtuie wat in Asië vermis geraak het,” het hy voortgegaan.

Sebastiaan het voorts gesê: "Kinders het gehuil en mense het nie geweet wat om te doen nie. Die loods het aanvanklik aangekondig dat dit ’n band moontlik kon gebars het."

Terwyl die vlamme die naghemel verlig het, het passasiers mekaar se hande vasgehou en gebid vir ’n veilige landing.

Noodreddingswerkers en brandweerwaens het op die aanloopbaan gewag terwyl die vliegtuig oor Bogota gesirkel het voordat dit na die lughawe toe gevlieg het vir ’n noodlanding.

Geeneen van die passasiers is beseer nie, maar almal was erg van stryk gebring deur die voorval.

Bronne: The Mirror, News.com.au, YouTube