Wat jy hier voor jou op die skerm sien gebeur, is presies 10 000 dae gelede op ons los gelaat. Daardie dag was die geboorte van die internet. Donderdag 28 Julie is die tien duisendste dag sedert die internet in 1989 op ons losgelaat is.

In ’n verklarende woordeboek word dit beskryf as: “Versamelnaam vir al die funksies wat binne die web vervat word, insluitende funksies soos elektroniese pos (e-pos), geselsgroepe en nuusgroepe, asook enige ander dienste en inligting wat elektronies aan gebruikers beskikbaar gestel word.”

Wie kan nog daardie geluid onthou van die rekenaar wat ’n inbelverbinding met die internet maak. Dit is vasgegroef in ’n mens se geheue.

Deesdae is dit so geluidloos soos sneeu. Jy kan letterlik enige plek in die wêreld gaan besoek, met filmsterre en gewonde sterflinge kontak maak.

Daar is al romantiese verhoudings gesmee op die golwe van die internet, maar daar was ook al moorde en misdaad met behulp van die internet; verdagtes opgespoor uit beeldmateriaal op YouTube . . . Kan jy jou die lewe indink sonder die internet?

via GIPHY

Wel, jy sou nie hierdie vraag kon lees as dit nie was vir Tim Berners-Lee nie. Hy het op 12 Maart 1989 ’n voorlegging by die Europese Organisasie vir Kernnavorsing gedoen vir ’n inligtingstelsel. Daardie stelsel is nou bekend as die wêreldwye web (dis waar die “www” voor elke inernet-adres vandaan kom).

Dit het nog ’n paar maande geduur voor die eerste “hypertext transfer protocol” (HTTP)-kommunikasie moontlik was.

Met die uitvinding van bladsye wat aan mekaar verbind word deur klikbare skakels (HTML/WWW) het Tim die internet inderwaarheid vir die groot publiek beskikbaar gestel. Hy word dus beskou as die uitvinder en grondlegger van die huidige internet.

Met behulp van webblaaiers soos Internet Explorer, Firefox, Opera en ander kan internetgebruikers toegang kry tot webbladsye. Hulle kan ook tussen webbladsye of webtuistes navigeer met behulp van hiperskakels. Webdokumente kan feitlik enige kombinasie van rekenaardata bevat, onder andere grafika, klank, video’s, gewone teks, multimedia en interaktiewe inhoud soos webspeletjies, sagteware en demonstrasies.

Hier verduidelik ’n paar bekendes in 1995 aan MTV-kykers wat die internet is:

Interessant genoeg was Britney Spears een van die eerste glansmense wat die eerste verwys het na die “misterieuse internet” en dit gebruik het om met haar aanhangers kontak te maak. Die jong Angelina Jolie was kort op haar hakke.

’n Paar kitsfeite oor die internet:

  • Van die 7 biljoen mense op aarde is oor die 2,4 biljoen internetgebruikers.
  • As al die bewegende elektrone op die internet geweeg sou word, weeg dit maar 50 g, so swaar soos ’n aarbei.
  • Dit verg 2 biljoen elektrone om een e-pos-boodskap te skep.
  • Op die oomblik is daar tussen 15 biljoen en 20 biljoen masjiene aan die internet gekoppel. Teen 2020 sal dit na raming styg tot 40 biljoen tegnonuutjies wat deur die internet aangedryf en beheer word.
  • Elke 60 sekondes word 72 uur van YouTube-videomateriaal opgelaai.
  • Altesaam 50 persent van internetgebruikers sal ophou wag en wegklik as ’n video langer as 10 sekondes neem om af te laai.
  • Facebook het oor die 1,55 biljoen aktiewe gebruikers.
  • 1,7 biljoen internetgebruikers is in Asië.
  • Teen volgende jaar sal daar meer internetverkeer wees as in al die jare op die internet saam.
  • Elke dag is daar 2,9 biljoen Google-soektogte.
  • ’n Hele 37 persent van materiaal op die internet is pornografie.

Bronne: mashable.com, abc.net.au, nbcbayarea.com, digitaljournal.com, wikipedia.org, hostingfacts.com, netforbeginners.about.com, factslides.com.