Die 26-jarige sanger van Castle on the Hill het saam met die 23-jarige Kanadese popster gedrink toe hulle besluit om gholfbaan toe te gaan. “Ons was in Japan. Ons is na ’n duikkroeg toe,” vertel Ed aan The Guardian.

“Hy het net water gedrink, maar ek het gekoring geraak. Daarna is ons na ’n gholfbaan, waar hy op die grond gaan lê, ’n gholfbal in sy mond gesit en my aangesê het om dit uit sy mond te slaan.”

Hoewel Ed bekommerd was, het hy aan Justin se versoek voldoen – tot die ergernis van die sanger van Cold Water se lyfwag.

“Ek het net gedink: ‘Korrel mooi!’” onthou Ed. “En, weet jy, wanneer iemand in ’n rolprent geslaan word en jy hoor daai nagemaakte geluid, soos ’n klap? Maar as iemand in die werklike lewe geslaan word, hoor jy daai dowwe slag, nogal naar? Die geluid wat ek gehoor het, was so en toe sien ek sy lyfwag kyk (geskok) na my.”

Ed vertel verder: “Ek het Justin Bieber met ’n gholfstok teen die wang geslaan. (Dit was) een van daai ‘wat de hel’-oomblikke.” Die ster het die gewoonte om betrokke te raak by bisarre voorvalle wanneer hy saam met die rykes en beroemdes partytjie hou, want hy spog met ’n litteken wat na bewering deur prinses Beatrice van Engeland se lompheid veroorsaak is terwyl sy ’n seremoniële swaard geswaai het. Ed was in November verlede jaar op ’n partytjie aan huis van prins Andrew, Beatrice se pa, toe sy na bewering probeer het om James Blunt, sy medesanger/liedjieskrywer “tot ridder te slaan”. Nadat Beatrice vir Ed na bewering per ongeluk raak geslaan het, is hy na die hospitaal gehaas waar hy steke moes kry; vandaar die litteken.

“Ek is in die gesig getref en ek het iets gesê soos: ‘Alles reg, oukei . . .’ en toe begin ek tekere gaan. En toe ek afkyk na my hemp, sien ek dis vol bloed, en almal gaap my soort van oopmond aan,” het hy vertel toe hy tydens ’n onderhoud met Absolute Radio na die voorval uitgevra word.

Die Britse liedjiemaker se jongste album, ÷ (Divide), is Vrydag (3 Maart 2017) uitgereik, en die hoof-enkelsnitte, Castle on the Hill en Shape of You, is reeds goed op koers om treffers te word.

© Cover Media