Die modeontwerper het op 22 Desember aansoek by die intellektuele eiendomsowerhede in Brittanje en Europa gedoen om Harper Beckham te registreer.

In die aansoek word Victoria genoem as regtehouer as ouer of voog, wat beteken sy kan wettiglik die naam op produkte – wat wissel van speelgoed en klere tot gesondheids- en skoonheidsprodukte – gebruik.

Om die handelsmerkregte vir Harper se naam – sonder haar ongewone tweede naam, Seven – te verkry, verseker ook eksklusiewe gebruik daarvan in die vermaakbedryf indien sy sou kies om in haar beroemde ouers se voetspore te volg.

Victoria, vrou van die afgetrede sokkerster David Beckham, het ook hul drie seuns, Brooklyn (18), Romeo (14) en Cruz (12), laat registreer.

Dit lyk of hul kroos ook in die vermaakbedryf gaan werk. Harper word by die Engelse Nasionale Balletgeselskap afgerig, Romeo doen modelwerk vir Burberry en Cruz het in Desember sy eerste liedjie, If Every Day Was Christmas, uitgereik en ’n platekontrak met Justin Bieber se bestuurder, Scooter Braun, onderteken.

Hul oudste, Brooklyn, het ook al modelwerk gedoen en is ’n ywerige fotograaf wat al ’n parfuumveldtog vir Burberry Brit geskiet het. Hy gaan ook eersdaags sy eerste fotografie-boek, What I see, uitreik wat 300 foto’s gaan bevat wat “sy aanhangers ’n seldsame kykie bied na hoe hy die wêreld sien”.

Victoria het onlangs bevestig Brooklyn gaan universiteit toe en het aan die kletsprogramaanbieder James Corden gesê sy sal gereeld met hom in kontak wees.

“Ons is ’n baie hegte familie en ek is baie trots op hom en alles wat hy bereik. Hy’t ’n goeie oog. Hy is baie gefokus en passievol en ek’s baie trots – my baba gaan universiteit toe. Dit gaan hom waarskynlik irriteer, maar ek gaan baie tyd daar saam met hom deurbring.”

David het sy naam in 2000 laat registreer en Victoria het in 2002 dieselfde gedoen, berig die BBC.

© Cover Media