Besonderhede oor die betaling aan Jamie Cooper-Hohn (49), ’n gebore Amerikaner, het die lig gesien nadat ’n voorlopig beslissing voor die finale beslissing aan prokureurs oorhandig is.

Jamie se prokureurs oorweeg na bewering ’n appèl om ’n nog groter skikking te kry.

Jamie is ná ’n huwelik van 15 jaar van die verskansingsfondsbestuurder Chris Hohn (48) geskei, en die twee het gestry oor bates wat meer as R12 biljoen beloop.

Chris het sy vrou ’n kwart van die fortuin aangebied, maar sy het beweer hul welvaart is danksy ’n vennootskap.

Die twee, wat mekaar as studente aan die Harvard-universiteit ontmoet het en twee kinders het, het die liefdadigheidsorganisasie Children’s Investment Fund Foundation gestig om armes in ontwikkelende lande te help.

Chris is die seun van ’n regsekretaresse en motorwerktuigkundige en het tussen 2006 en 2011 amper R17 biljoen geskenk.

Hy is vanjaar tot ridder geslaan vir sy bydrae tot filantropie en oorsese ontwikkeling.

“Op lang termyn kan ek baie geld maak,” het Chris aan die hof gesê, maar het bygevoeg hy “gee nie regtig om oor geld nie” en dat dit nie geluk bring nie.

Volgens regskenners is die skikking een van die grootstes in Brittanje, maar dit is moeilik om te bepaal omdat selfs groter uitbetalings privaat gehou word.

Dit is wel veel groter as wat tot dusver as die grootste in Brittanje beskou is: 2011 se skikking van tussen R2,8 biljoen en R3,8 biljoen wat die wyle Russiese oligarg Boris Berezowski aan sy gewese vrou Galina Besjarowa betaal het.