Elke nou en dan lees ’n mens van iemand met ’n vrek slim sake-idee wat jou laat wonder waarom jy nie met dié blink plan vorendag gekom het nie.

Een so ’n man is die New Yorker Robert Samuel, wat geld soos bossies maak deur namens besige mense in rye te staan en wag.

 

Sy blink idee het begin toe die splinternuwe iPhone 5S in 2013 op die mark verskyn. Hy het geweet mense gaan in lang toue staan om die nuwe foon in die hande te kry en het aanlyn ’n advertensie geplaas waarin hy aanbied om teen ’n tarief namens ander mense in die ry te staan.

Robert was in dié stadium werkloos en desperaat vir geld.

Nadat hy sy eerste kliënt se foon suksesvol in die hande gekry het, het nog mense hom gevra om vir hul iPhone te wag. Hy het dié dag R4 273 gemaak, vertel hy aan Elite Daily.

 

Mission accomplished! #rediphone #rediphone7plus #apple #linedudes

A post shared by Same Ole Line Dudes, LLC (@sold_inc) on

Deesdae wag Robert en sy span in toue vir enigiets van gewilde uitverkopings tot konserte se kaartjies of selfs as jy ’n wegneemete wil hê, maar die restaurant se tou is baie lank. Teen die begin van 2016 het hy 25 mense gehad wat vir hom werk.

Hy sê sy werknemers wissel van pensioentrekkers tot studente of bloot mense wat ’n ekstra inkomste wil verdien. “Ons het ’n lekker mengsel mense,” het hy aan LLNYC vertel.

 

Dit is meestal rykes wat van sy dienste gebruik maak, sê hy, en sy mense word gereeld betaal om in rye te wag vir luukse ontwerpers se jongste modes. Soms kry hulle dan vreemde kyke omdat ander kopers wonder wat dié Jan Alleman by die duur winkels maak, vertel hy.

Sy dienste kos $25 (R328) vir die eerste uur en daarna $10 (R131) vir elke bykomende halfuur.

Ekstra bronne: New York Daily News, CNBC.