Twee dae later kon sy toe die blye nuus op haar Facebookblad deel: die ring is uit en weer aan haar vinger.

Dit was ‘n traumatiese ondervinding, vertel Char-denise Nel (22) nou. “Maar ons is net dankbaar ons is veilig.”

Char-denise Nel en haar man, Fafa, straal op hul troudag

Sy en haar man, Fafa Nel (24), met wie sy op 3 Junie in die huwelik getreë het, het net na twee uur die afgelope Saterdagoggend wakker geword toe hulle twee worshondjies erg aan die blaf gegaan het. Fafa het ondersoek ingestel en twee mans by die skuifdeur in die sitkamer aangetref. Hulle het die veiligheidshek se slot gebreek om toegang tot die huis te kry. 

Fafa het teruggehardloop om die kamerdeur toe te druk, waarna nog twee mans gewapen met messe, te voorskyn gekom het. Hy is in die badkamer in gedwing.

Char-denise vertel sy het die kombers oor haar kop getrek terwyl hulle die slaapkamer deursoek het. Haar skoonma, Martie, was in ‘n ander kamer.

“Al wat op daardie stadium deur my kop gegaan het, is ‘waar is my man, waar is my man,’ ” sê sy. “En ek was bang, want jy weet nie wanneer kry jy ‘n mes in jou sy nie.”

Die een rower het haar hand onder die kombers gegryp, maar sy het instinktief weggeruk.

Dit is my ringe, niemand vat dit nie, het sy gedink.

Toe ruk sy die ringe af en sluk altwee in.

“Ek het nie eintlik gedink nie, ek het net gedoen,” vertel sy.

Char-denise Nel het haar ring ingesluk nadat rowers dit wou neem

Die rowers is toe weg met ‘n TV-stel, skootrekenaar, twee selfone en ‘n horlosie.

Toe hulle besef hulle is veilig, is Char-denise na die badkamer waar sy haar vinger in haar keel gedruk het.

“Die troupand het dadelik uitgekom, maar my verloofring was weg.”

Die volgende dag is sy en Fafa na ‘n plaaslike kliniek waar x-straalplate duidelik die ring in haar maag wys.

“Die dokter het gesê ek hoef nie bekommerd te wees nie, hy sal vanself uitkom.”

Die dokter was reg, want vanoggend kon sy haar vriende op haar Facebookblad laat weet: "Best day ever!!! Lekker om hom weer te kan sien!! My week is gemaak."