Mars One, ’n Nederlandse organisasie sonder winsbejag, poog om teen die jaar 2023 die eerste menslike nedersetting op Mars te vestig. Al wat hulle nodig het, is vier vrywilligers om hul tassies te pak en Mars toe te reis – en jy kan een van hulle wees.

Maar wees gewaarsku: Jy kry net ’n eenrigtingkaartjie soontoe – nie een terug nie. Die eerste vier bemanningslede sal 210 dae lank tot by Mars vlieg en daar – vir die res van hul lewens – ’n nedersetting begin, wat oor die jare sal uitbrei tot nog aardbewoners vir ewig Marsmanne en -vroue word.

Marieke Wagensveld, Mars One se kommunikasiespesialis, het aan Huisgenoot gesê die aansoeke sluit definitief Saterdag. Hoewel sy nie kon bevestig hoeveel Suid-Afrikaners aansoek gedoen het nie, is 165 000 aansoeke uit 140 lande sedert April vanjaar reeds ontvang. Van dié aansoeke is 23 persent Amerikaners – die land wat tot dusver die meeste aansoeke ingedien het.

’n Hand vol Suid-Afrikaners het wel op Mars One se webtuiste aansoek gedoen. Daar, waar die wêreld ook vir hul gunstelinge kan stem, geniet ene Richard, Dario en Hester die meeste aandag.

“My grootste vrees is om niks te doen wat onthou sal word nie; dis hoekom ek hier is,” skryf die 19-jarige Richard op sy profiel.

“Ek is bereid om enigiets te doen om my lewenslange droom ’n werklikheid te maak,” sê die 18-jarige Dario.

En as jy dink jy’s te oud, volg Hester (65) se voorbeeld: “Ek soek ’n nuwe uitdaging om die volgende hoofstuk in my lewe bevredigend te maak,” sê sy.

Enigiemand ouer as 18 met ’n bereidwilligheid om te leer – en wat hul hele lewe aan die projek kan afstaan – kan aansoek doen. Breedvoerige opleiding sal verskaf word.

– Christiaan Boonzaier

Ekstra bron: mars-one.com