HULLE was nooit ’n doodgewone paartjie nie – hy was immers ’n oud-Bok, sy ’n TV-aanbieder en sangeres. Maar noudat Joost van der Westhuizen en Amor Vittone se huwelik op die rotse is, staar dieselfde probleme hulle in die gesig as vir ’n doodgewone paar op pad skeihof toe.

Die beskuldigings vlieg heen en weer, soos met feitlik elke egskeiding. Oor sy ontrouheid het Joost al gebieg, al was dit maande nadat ’n veelbesproke seksvideo met hom daarin uitgelek het. Tog was dit hy wat Amor onlangs vir ’n egskeiding gedagvaar het, glo omdat sy hom verneuk het.

Nie een van hulle rep ’n woord oor die nuutste gebeure nie. Maar met beskuldigings van ontrou – selfs al was dit nadat Joost uit hul huis in Dainfern, Johannesburg, padgegee het – en bates wat verdeel moet word, kan die egskeiding maklik in ’n duur en smerige een ontaard.

Ongelukkig ontaard die meeste egskeidings in ’n bakleiery oor toesig oor die kinders, wie die huis kry en hoeveel onderhoud betaal moet word – of dit nou ’n glanspaartjie is wat skei of ’n doodgewone meneer en mevrou.

“Wanneer paartjies wil skei, het die huwelik gewoonlik al in so ’n mate verbrokkel dat amper alles ’n twispunt kan raak, sê Peter Baker, ’n Kaapstadse prokureur wat in skeisake spesialiseer. “En ongelukkig is kinders gewoonlik die onskuldige slagoffers.”

’n Opname van Statistiek Suid-Afrika beaam dit. In 2008 het 28 924 pare geskei en byna 27 000 kinders jonger as 18 is daardeur geraak. In dié geval is dit Joost en Amor se twee kinders, Jordan (6) en Kylie (4), wat aan die kortste ent gaan trek.

Die glanspaartjie sou in Desember hul agtste huweliksherdenking vier, net ’n jaar korter as die gemiddelde nege jaar voor ’n huwelik deel van die skeistatistiek in Suid-Afrika word.

“Ons sien paartjies wat baie korter en baie langer getroud is wat wil skei. Gewoonlik gaan dit oor ’n derde party, maar dit kan ook weens finansiële redes wees of bloot net dat hulle uitmekaar gegroei het,” sê Peter.

Maar al geld geen enkele reël of gemiddelde vir alle egskeidings nie, kan jy tog stappe neem om die pynlike proses te verkort en jouself te beskerm.

Lees die volledige artikel en kry meer advies oor egskeidings in die Huisgenoot van 2 September 2010