Al daardie boodskappe wat jy uit woede gestuur het, daardie liefdesverklarings wat jou agterna laat bloos het, daardie boodskappe wat jy na jou baas pleks van jou lewensmaat gestuur het – ons het al almal die vernederende oomblikke van spyt beleef net nadat ons stuur gedruk het. 

Maar dit kan binnekort iets van die verlede wees. 

Whatsapp stel dalk binnekort ’n kenmerk bekend waarmee gebruikers ’n ongewenste boodskap kan herroep. Volgens WABetaInfo, ’n aanhangerswebtuiste wat nuwe WhatsApp-kenmerke vroeg toets, kan die kenmerk by die volgende Whatsapp-bywerking (2.17.30+) ingesluit word.

Die herroep-opsie sal net beskikbaar wees binne vyf minute nadat jy stuur gedruk het. Jy kan selfs foto’s, GIF’s en video’s herroep, maar as jy daardie afsnypunt van vyf minute misloop, sal jou boodskap bly. 

“WhatsApp het in beta die moontlikheid bygevoeg om boodskappe te verander wat jy reeds gestuur het. Dit word eintlik by verstek buite werking gestel en dit word nog ontwikkel,” lui ’n vroeëre twiet van WABetaInfo.

Die app, wat aan Facebook behoort en meer as 1,2 biljoen gebruikers wêreldwyd het, het kwaai onder kritiek deurgeloop oor hul vorige bywerking waarmee die status weggedoen is en die ou kontak-oortjie verdwyn het. Ná negatiewe reaksie is dié kenmerke teruggebring. 

Maar ons is seker die nuwe herroep-kenmerk sal verwelkom word as hulle besluit om dit te aktiveer.

Bronne: Daily Mail, Economic Times, ECR