Wanneer Sandy Cook smiddae ná werk by die huis kom, is haar dag nog lank nie verby nie.

Buiten kos maak is dit dan huiswerktyd vir haar seuns, Mark (10), in gr. 5, en Nicholas (9), in gr. 2. Dan moet dié besige ma saam kopkrap oor somme en help met lees, skryf en take.

Dit raak darem al makliker, sê sy. “Die vroeë grade is tydrowender, want die huiswerk verg aktiewe betrokkenheid. Maar hou moed; dit raak makliker,” troos sy. “Nicholas raak gou moeg en is nogal hardkoppig. ’n Mens raak maklik ongeduldig, veral ná ’n lang werkdag. Niks is so erg soos ’n huiswerksessie wat op trane uitloop nie.”

Mark kry reg om alleen te werk, maar Sandy wil hom leer om onafhankliker en meer georganiseerd te raak. “Seuns van sy ouderdom kan nogal verstrooid wees en skielik moet hulle baie dinge  onthou.”

Maar wanneer moet ’n ouer begin terugtree? “Dit is veral met mondeling en projekte dat ek nie seker is hoeveel ek moet help nie,” erken Sandy. “Ek weet van kinders wie se ouers alles doen. Die versoeking is groot, veral met mondeling in hul tweede taal. ’n Mens wil so graag hê jou kind moet goed vaar; dis moeilik om toe te kyk hoe hulle foute maak.”

Sandy troos haar met die woorde van een van Nicholas se onderwyseresse: “Sy het gesê ouers bewys hul kinders ’n onguns wanneer hulle te veel wil doen. Dis noodsaaklik dat hulle dinge op hul eie leer aanpak.”

Met die skooljaar nou in volle gang, sit duisende ouers met dieselfde dilemma as Sandy. Hier is raad.

Hoeveel hulp?

Elke kind is uniek; daarom is daar geen wet van Mede en Perse vir huiswerk en onafhanklikheid nie, sê Alfred du Plessis, ’n Pretoriase opvoedkundige sielkundige. “Gr. 4 is ’n oorgangsjaar. Dan behoort kinders ál meer op hul eie te begin werk.”

Claudell Muller, ’n gr. 6-onderwyseres aan die Laerskool Kenridge in Durbanville, sê die onderwysers het riglyne opgestel hoeveel werk billik is per graad en hoeveel ouers moet help.

“Dit is op die skool se webtuiste en ons skryf spesiale opdragte in die leerders se huiswerkboekies.

“Ouers weet presies hoeveel tyd hulle aan huiswerk moet wy en wat in dié tyd gedoen behoort te word.”

Sy verduidelik die tyd word jaar ná jaar ’n bietjie meer. Die skool beveel byvoorbeeld aan  dat gr. 1-leerders 20 minute per dag aan lees, klank en wiskunde wy, terwyl gr. 7-leerders daagliks ’n uur aan geskrewe huiswerk moet afstaan en ’n halfuur aan studietyd.

Sy sê ook ouers moet onderskei tussen hulp en toesig. “Dit is ’n geleidelike proses: Ouers moet ál minder help en later net kyk dat die huiswerk wel gedoen is.”

Claudell stem saam met Alfred, alle kinders kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie. “Ouers moet heeltyd met hul kinders kommunikeer,” sê sy. “Jy kan nie net skielik terugstaan en vir jou kind sê: ‘Nou’s jy oud genoeg om dit self te doen’ nie.

“Praat met hulle, veral in gr. 3-7, en sê: ‘Tot hiertoe het ek jou met al die leerareas gehelp, maar nou moet jy op jou eie regkom met byvoorbeeld wiskunde.’ ”

Maar hou nog altyd jou vinger op die pols. “Jy moet weet wat in jou kind se skoolboeke aangaan,” sê Emmie Archer, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Hou die punte dop, maar moenie wag vir die rapport ná die eksamen nie. Jy moet weet wanneer jou kind ’n toets skryf; vra dan hoe

dit gegaan het.” So sal jy gou sien as jou kind sukkel.

SMS die onnie

Die meeste skole het elke kwartaal ’n oueraand, maar dit is nie altyd genoeg nie, reken Emmie. “Gaan stel jou aan die begin van die jaar aan jou kind se onderwyser voor. Vind uit of jy die onderwyser kan SMS, e-pos of bel of selfs deur Facebook kontak.”

Tegnologie bied allerhande nuwe moontlikhede. Sandy vertel Mark se huiswerk is op die skool se webtuiste beskikbaar. Party skole het ’n Facebook-groep waar jy jou vrae kan vra en met ander ouers kan kommunikeer. As jou kind se skool nie so iets het nie, begin ’n groep of stel dit voor op ’n oueraand.

Wees prakties

Dit is veral in die grondslagfase (gr. 1-3) dat ouers nie weet hoe om met huiswerk te help nie, sê Caran Grobbelaar, ’n gr. 1-onderwyser aan die Primêre Skool Somerset-Wes; daarom het die skool verlede jaar ’n werksessie met praktiese wenke vir ouers aangebied.

“Ons moedig ouers aan dat hulle die televisie afskakel en ’n kort tydjie elke dag net aan huiswerk aandag gee.” By kinders in dié fase is ouerhulp veral met leeswerk nodig, sê sy. “Help hulle met die uitspreek van woorde. Wees prakties: Trek die graanvlokkieboks nader en vra jou kind moet hardop voorlees wat agterop staan.”

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement stel op sy webtuiste voor huiswerk moet elke dag op ’n vasgestelde tyd gedoen word. Besluit saam met jou kind hoe laat en hou daarby. Hierdie tyd moet dan reëls vir die hele gesin insluit, soos geen besoekers of raserige telefoongesprekke en musiek nie.

Wanneer is die beste tyd?

Die ideaal is dat huiswerk vroeër pleks van later in die dag gedoen word, sê Alfred. “Wanneer die ouer en die kind moeg is, is dit nie goed vir hul verhouding nie.” Werkende ouers wat dit kan bekostig, kan ’n tutor aanstel of kinders by ’n nasorgklas inskryf waar die grootste deel van die huiswerk gedoen kan word.

“Maar dit beteken nie die verantwoordelikheid word verplaas nie: Jy bly jou kind se primêre opvoeder,” sê hy. “Selfs wanneer ’n werkende ma ’n familielid se hulp inroep met huiswerk, moet een van die ouers nog altyd, al is dit naweke, tyd inruim om byvoorbeeld ’n leesles saam met die kind deur te werk. Daardie interaksie is ook goed vir die ouer-kind-verhouding en die ouer bly betrokke.”

As ekstra hulp onmoontlik is, benader dit soos Sandy. “Ons raak eers rustig en kry ons kop reg

voor ons begin,” sê sy. “Ons het ’n werktafel met alles wat ons kan nodig kry. Dan hoef niemand rond te hardloop op soek na ’n uitveër of ’n skêr nie.”

Dit is belangrik dat huiswerk met ’n positiewe houding aangepak word en in ’n goed georganiseerde omgewing, sê Alfred. “Maar alle huiswerk is nie lekker nie, dit moet kinders ook leer.”

Wat van take en mondelinge?

Claudell verduidelik die benadering is deesdae anders.

“By ons skool is die beleid dat al die navorsing by die huis gedoen word en ouers mag daarmee help. Maar dan moet die leerders die inligting skool toe bring en die taak daar doen.”

Alfred stem saam met dié beginsel: “Dit verlig die druk op die ouers wat alles self wil doen. Dit leer ook die kinders hoe om met die inligting te werk.”

Hoe moedig ek my kind aan?

“As jou kind vasskop teen huiswerk, is dit eerstens belangrik dat jy seker maak daar is nie ’n  nderliggende leerprobleem nie,” sê Emmie. “As jou kind ’n lees- of konsentrasieprobleem het, gaan hulle nie geesdriftig wees oor huiswerk nie.”

Vir ouer kinders in gr. 4 en op kan jy doelwitte stel. “Vra jou kinders of hulle tevrede is met hul prestasie en wat hulle graag wil bereik. Skryf dit neer.”

Beloon die kinders dan wanneer hulle die doelwit bereik; nie noodwendig met geld nie, maar “iets eenvoudigs soos dat die kinders kan kies wat julle Vrydagaand eet of ’n lekker gesinsuitstappie”.

Hoeveel huiswerk per dag?

Die opvoedkundige sielkundige Alfred du Plessis beveel aan dat ouers ’n reël maak om net ’n sekere

tyd per dag aan huiswerk af te staan. “Moenie te lank vashaak by ’n fout nie, veral nie kleineres nie.

Dit rek die sessie uit en is sleg vir die kind se selfvertroue.”

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement gee die tydriglyne hiernaas, maar praat met jou kinders se onderwysers oor hul skool se beleid.

Grondslagfase

Gr.1 – 10  minute

Gr.2 – 20 minute

Gr.3 – 30 minute

Intermediêre fase

Gr.4 – 40 minute

Gr. 5 – 50 minute

Gr. 6 –  1 uur

Gr. 7 – 1 uur 10 minute

- Suzaan Hauman