Jy kan nou die bekende Playboy-herehuis koop, maar ongelukkig is die rooi satynjapon en die smeulende vroue nie by die prys van sowat R3,34 biljoen vir dié woning ingesluit nie.

Jy sal wel die geleentheid kry om Hugh Hefner as ’n huismaat te hê.

Volgens Channel24 gaan die stigter van die Playboy-handelsmerk, Hugh Hefner, se huis teen die einde van die maand in die mark wees.

Een voorwaarde is moontlike kopers mag nie Hefner se slaapkamer sien nie.

Dié bielie van ’n huis het 22 slaapkamers, ’n wynkelder, tennisbaan, speelkamer en die Playboy-tydskrif se kantoor.

Volgens Top Ten Real Estates het Playboy miljoene aan dié bielie van ’n huis bestee. Dit bestaan uit onder meer 29 vertrekke, ses slaapkamers en suite en ’n vier-slaapkamer-gastehuis, swembad, tennisbaan, wynkelder, gim, teater en dieretuin.

Hoewel die plek binnekort ’n nuwe eienaar gaan hê, gaan Hefner nêrens nie. Hy verkoop sy eiendom as ’n lewensboedel, wat beteken die 89-jarige Hefner mag nog tot sy dood op die perseel woon.

“Die Playboy-herehuis was langer as 40 jaar Hefner se kreatiewe sentrum en sal dit bly, al word die eiendom verkoop,” lui die persverklaring van Playboy.

Bronne: Channel24; www.toptenrealestatedeals.com; Forbes