Vanjaar se 10 finaliste is manne wat ’n bars kan kyk – dit kan jy sommer op hul foto’s sien.

En kykers kon hulle al vanaf 5 Mei om halfagt op Donderdagaande verlustig in dié 10 beter leer ken. En landwyd beny ons lesers natuurlik die pragtige aanbieder, Angelique Gerber, wat so heerlik met die manne gesels . . .

Laat klop een van die boere jou hart vinniger? Skryf dan vir hom ’n brief wat sy knieë lam sal ma­ak en kyk wat gebeur.

Die vyf boere wat die meeste briewe kry, sal in September gesig wys op televisie, en daarna sal hul vlerkslepery week ná week uitgesaai word.

Hier is die boere wat die vroue se harte gaan roer:

1. Johan (53) van Roedtan, Limpopo boer met beeste, wild en sonneblomme

Johan se hande staan vir niks verkeerd nie, selfs nie vir kinders alleen grootmaak nie. Dis wat hy ná sy egskeiding vir sy drie kinders gedoen het.

Maar, sê hy, dis nie vir hom lekker om met kinders te raas nie. Wat vir hom so lekker soos ’n vakansie is, is boer. En helikopter vlieg. (Ja, meisies, hy hét ’n lisensie.)

Uit vorige verhoudings het hy geleer hoe meer jy gee, hoe meer ontvang jy.

As hy ’n romantiese afspraak moet ­reël, sal hy vir sy meisie ’n GPS, ’n roos en sy Land Cruiser se sleutels by die huis los sodat sy self by ’n spesiale plekkie in die veld kan uitkom waar hy haar sal inwag.

Johan soek ’n saggeaarde vrou om by hom te pas.

2. Eon (24) van Dwaalboom, Noordwes is 'n saaiboer, maar het ook beeste en wild 

Eon het ’n passie vir sy boerdery, die natuur en diere. Saam met hom sal jy lekker kampeer en gereeld braai.

Hy droom van die ideale romantiese afspraak saam met sy gunsteling-nooi in die middel van 500 hektaar sonneblomme. Dié sonneblommeisie sal eerlik moet wees en goed kan kommunikeer.

En wees verseker, as jy Eon se vrou is, gaan jy wéét jy is alles vir hom, belowe hy.

Die lysie waaraan sy ideale vrou moet voldoen, is nogal lank. Die vrou so na sy hart is modern, liefdevol, mooi, saggeaard, spontaan en opreg.

Sy moet natuurlik die lewe saam met hom kan geniet en sy moet lekker kan lag.

3. Pierre (25) van Worcester boer met wyndruiwe en melk

Pierre is ’n baie sportiewe man, en doen alles van tennis speel tot vlieërplankry. Maar so vinnig soos wat dié man op die tennisbaan is, so stadig en versigtig is hy wanneer dit by verhoudings kom.

Dis vir hom belangrik dat ’n man en meisie eers lekker maats is voor hulle te ernstig raak.

Dié plat-op-die-aarde ou sal sy spesiale meisie iewers hoog bo in ’n berg onder ’n waterval verras met twee yskoue biere.

Sy sal ’n vrou moet wees wat lekker saam met hom kan lag, want Pierre hou van lag.

Hy sal ook daarvan hou as sy darem min of meer dieselfde belangstellings en waardes as hy het.

4. Christo (26) van Leandra, Mpumalanga boer met beeste en mielies

Christo is op sy gelukkigste op die plaas. En as hy nie op sy plaas is nie, is hy op die gholfbaan.

Hy is mal oor motorfietsry, maar sukkel om betyds vir afsprake te wees. Hy vergoed wel daarvoor deur sommer baie liefdevol te wees, sê hy.

Christo glo ’n verhouding kan net werk as ’n mens God bo alles plaas en as albei bereid is om hard te werk.

’n Romantiese afspraak begin vir hom by die regte maat, ’n ligte wyn, kerse en ’n sonsondergang.

Die regte maat vir Christo is ’n vrou wat die goeie en die slegte tye met ’n glimlag kan hanteer, en sy moet verstaan die boerdery verloop nie altyd volgens plan nie.

5. Gert (33) van Robertson boer met wyn en vrugte

Hy is ’n visserman. Wanneer hy nie visvang vir ontspanning nie, wil hy dans of braai.

Maar moenie bekommerd wees nie; Gert werk ook graag in die tuin.

Hy glo mense in verhoudings moet mekaar se persoonlike ruimte respekteer om te kan groei.

Om daardie rede hou Gert van ’n vrou wat onafhank­lik kan wees en ’n sterk persoonlikheid het. Sy moet goed kan aanpas op die plaas en dinge op haar eie kan doen.

Gert sê hy is darem altyd betyds vir afsprake en dat hy lojaal sal wees aan sy droomvrou.

Hy het twee kinders uit ’n vorige huwelik.

6. JB (25) van Bothaville het 'n gemengde boerdery

Saam met JB sal jy ure om gesels oor ’n lekker bottel rooiwyn. Hoewel hy homself nie juis as romanties beskou nie, hou hy tog daarvan om alleen saam met sy spesiale meisie te wees.

JB is nie ’n man vir tierlantyntjies nie – hy meen soos jy hom sien, so is hy.

In ’n verhouding moet alles van twee kante af kom, glo hy.

Hy hou van ’n vrou wat hard kan werk, opreg en netjies is. Dié netjiese meisie moet darem ook weet hoe om hom spesiaal te laat voel.

7. Van Zyl (33) van Richmond, Noord-Kaap boer met wolskape en vleisbeeste

Van Zyl is mal oor die Karoo en sy oop vlaktes. Pak jou tennistekkies in as jy dié boer wil uitklop, want naweke speel hy graag tennis en kuier hy lekker saam met vriende.

Van Zyl glo sy boerdery is nie belangriker as sy meisie nie en belowe hy sal haar nie afskeep nie.

As jy mooi, romanties en borrelend is, sal hy vir jou ’n vuurtjie langs die plaasdam maak. Daar sal hy vir jou ’n wyntjie skink terwyl julle saam luister hoe die kolganse roep.

8. Bas (30) van Hartbeespoort is 'n blommeboer

Blomme is vir Bas nie net iets om ’n meisie mee gelukkig te maak nie; dis sy brood en botter en sy grootste passie.

Hy sê hy kan nie stryk nie en is soms ongeduldig met sy werkers, maar is in die algemeen ’n vriendelike, gemotiveerde kêrel.

Vertroue, toegeeflikheid en die vermoë om te luister is vir hom belangrik in ’n verhouding.

Sy ideale meisie is vol energie en lus vir die lewe. Sy moet hou van die buitelewe, braaivleis en van kuier saam met Bas se vriende.

Hy het twee moeder­tale: Afrikaans en Nederlands.

9. Andries (35) van Vryburg boer met aartappels, uie en beeste

As jy Andries se hart gesteel het, is die kans goed dat jy die wind in jou hare gaan voel op die rug van sy motorfiets.

Behalwe vir motorfietsry, is hy ook lief vir kampeer – vergeet dus maar van jou haardroër as jy dié ou wil beïndruk.

Andries is ’n man wat nie bang is om sy gevoelens te deel nie en hy gooi nie sommer tou op in verhoudings nie.

As hy ’n plaasmeisie kan kry wat vriendelik, saggeaard en aanpasbaar is, sal hy haar graag in ’n warmlugballon oor ’n woestyn wil wegvoer . . .

10. Cliffed (27) van Vivo, Limpopo boer met aartappels, pampoene en wild

Cliffed boer al sewe jaar saam met sy pa. Maar moenie dink dié ou is ’n pampoen nie – Cliffed beskryf homself as ’n man met sommer baie ambisie.

’n Ernstige motorongeluk het ’n klompie jare gelede ’n einde gemaak aan sy studie in Pretoria, toe het hy opgeskop en saam met sy pa begin boer.

Hy erken hy het soms ’n vinnige humeur, maar sê hy kan ook net so maklik lekker lag.

Cliffed glo ’n mens moet ander eers leer ken voor jy hulle oordeel. Hy sal hou van ’n sagte meisie om daardie driftigheid van hom te tem.

KLIK HIER vir die inskryfvorm en kompetsiereëls

KLIK HIER vir die boere se foto-gallery