’n Juweliersware-modegier so omstrede soos borsvoeding?

Stukkies hare, tande of ou speelpakkies is so uit die mode; die jongste neiging in baba-aandenkings is effens persoonliker: ál meer vroue verkies nou borsmelk-juweliersware om hul kleingoed se babatyd mee te gedenk.

Die gier word met gemengde reaksie begroet (nes met borsvoeding) en party is in opstand daaroor, terwyl ander spook om hul bestellings te plaas.

Vickie Krevatin, eienaar van die vooraanstaande borsmelk-juwelierswaremaatskappy Mom’s Own Milk, sê: “Ek weet wat ek doen is beledigend vir party mense; hulle sê vir my dis walglik. Maar ek kry meer bestellings as ooit tevore.”

Allicia Mogavero, ’n Amerikaanse kleinhandelaar van die produk, was in die sop by die gereg nadat talle vroue haar hof toe gesleep het omdat hulle voel hulle wag te lank vir hul hangertjies. Alicia, wat MommyMilk Creations besit, sê die proses om melk in juweliersware te omskep is tydrowend en haar talle klante is ingelig oor hoe lank dit kan duur. Die Amerikaanse aanlyn handelaar Etsy het die produk aangehou, maar dit onlangs verwyder op grond daarvan dat dit as menslike oorskot kwalifiseer. Die vervaardigingsproses vir die omstrede juweliersware kan nogal ingewikkeld raak. “Die enigste manier om juweliersware van enige soort melk te maak sou wees om die kaseïen (die hoofproteïen in melk) te skei van die res van die vloeistof, wat gedoen kan word deur die melk met ’n suuragtige stof soos asyn of suurlemoen te meng wat die proteïen laat uitkom en laat stol in ’n klipagtige struktuur soos dit droog raak,” sê Anna Daniels, woordvoerder van die Britse Dieetkundevereniging . Die melk word dan in ’n vorm geplaas en in ’n plastiekharpuis om die fyn uitgewerkte ontwerpe in die hangertjies te skep. Talle vroue wat die juweliersware gekoop het, het gekla dit het binne ’n jaar bruin verkleur – dit kan veroorsaak word deur blootstelling aan lig of die ensieme in borsmelk. Ten spyte van die teenreaksie is ma’s wat hul borsvoeding wil vier, versot op hul betekenisvolle bykomstighede. “Borsmelk is die beste band wat ek met my seun het – ek wou iets hê om die betekenis daarvan in ons lewens te vier,” sê die Moms Own Milk-klant Michelle Boyd.

BRONNE: dailymail.co.uk, washingtontimes.co.uk

Saamgestel deur Lindsay de Freitas