[caption id="attachment_153560" align="alignnone" width="600"]Die toneel waar die skietery met die polisie plaasgevind het. Foto: Adriaan Stadler Die toneel waar die skietery met die polisie plaasgevind het. Foto: Adriaan Stadler[/caption]

Die voorval het handuit geruk toe die rowers met AK47-aanvalsgewere op die polisie losbrand en trompop teen ’n ander motoris bots.

Kapt. Ilse Jones, Garsfontein-polisie woorvoerder, het aan Huisgenoot bevestig drie rowers is in hegtenis geneem en een van hulle is deur beamptes van ’n plaaslike sekuriteitsfirma in die enkel gewond.

“Ons hanteer in dié stadium twee tonele: een by die Deonne Le Roux-juwellierswinkel in die sentrum en die ander op die hoek van De Villebois- en Hesketh-rylane waar die rowers met hul swart Mercedes Benz teen ’n ander motors gebots het,” het Ilse gesê.

Sy het bygevoeg die ander motoris is ongedeerd.

Volgens Malize Jacobs, woordvoerder van die sentrum, is niemand tydens die gewapende rooftog in juwelierswinkel beseer nie. “Die polisie is steeds op die toneel om vingerafdrukke te neem en vir die winkel se bestuur om te bepaal wat alles gebuit is” het sy gesê.

Die winkel se sekerheidspersoneel het alarm gemaak toe die rowers met sakke vol juwele vlug.

Volgens Ilse is die personeel nog baie getraumatiseerd. “Volgens die werknemers was daar minstens vyf aanvallers, so dit kan wees dat party nog soek is."

Ilse vertel die skietery op die polisie het begin by die kruising van Jacquesstraat en De Villeboisrylaan. Volgens haar is die rowers kort na die botsing aangekeer.

“In die stadium kon ons nog nie toegang tot die wrak kry om te sien of die gesteelde goedere daarin is nie. Wat ons wel kan sien, is ’n 9mm-pistool en ’n AK-47.”