Justin Bieber se Brasiliaanse bedmaat Tati Neves Barbosa dink hy is een van die “beste” mans met wie sy al seks gehad het.

Die Boyfriend-sanger het vroeër vandeesmaand die wenkbroue laat lig toe ’n video uitlek waarin hy slaap ná ’n beweerde nag van passie met die 27-jarige Tati Neves Barbosa, wat hy saam met ’n groep vroue na sy gehuurde villa in Rio de Janeiro genooi het.

“Ons was baie liefdevol met mekaar,” het sy aan die foto-en-media-agentskap AKM-GSI gesê. “Hy was een van die beste wat ek al gehad het. Hy het sy storie geken.”

Tati, wat ’n vyfjarige dogter by haar vervreemde man het, beweer Justin (19) het vir haar en ’n groep skoonhede na sy villa genooi, maar net oë vir haar gehad.

Die brunet, wat ontken dat sy ’n prostituut is, hou intussen vol sy het nie die berugte video van haar en Justin op die internet gelaai nie. Sy sê sy het dit opgeneem om aan ’n vriendin te bewys sy was wel saam met die popster.

“Ek wou nie hê die video moes uitlek nie, maar daar is nie nou veel wat ek daaraan kan doen nie. Ek het dit verfilm soos enige aanhanger sou doen. Hy is ’n ster. Hy is pragtig.”